Donderweer en Weerligstrale
Die onlangse donderweer en weerlikstrale, wat ‘ongehoord’ vir ons omgewing is, kon egte Kapenaars dalk die gordyne laat toepluk het. Gautengers (en ander provinsies) se afgetredenes het dalk met verlange aan die Noorde se donderweer en weerligstrale teruggedink - daar kom dit beslis nie in klein-maat voor nie, plus dan nog gepaardgaande en verwoestende haelbuie.
In Gansbaai het ons knap fotograwe van die Gansbaai Fotografieklub, asook ander fotograwe, net een ding gedoen - hulle kameras gegryp en so gou as moontlik op die ‘regte’ plekke probeer uitkom. Uitstekende foto’s is deur die professionele fotograwe van ons omgewing geneem. Dit is ‘n jammerte dat daar nie spasie is vir almal se foto’s nie. Bekende Riaan Jacobs van die Fotografieklub se foto’s het die Gans-Berg Nuus eerste bereik en word hiermee geplaas.