God se Woord verander ons
Die jaar vier ons die 500 jaar herdenking van die Reformasie. Sentraal tot die viering is die skat van die Bybel. Dat ons die Bybel mag lees en ook in ons eie taal is die erfenis van die Reformasie. Die Bybel is teruggegee in die hande van gelowiges. Die Bybel is egter ‘n gevaarlike boek en baie keer die oorsaak van konflik en spanning in die kerk. Die Bybel kan gebruik word om my eie agenda te bevorder en selfs haat aan te wakker. Miskien is die belangrikste om te onthou dat as die Bybel deur God se Gees die Woord van God word in my lees en my lees saam met ander, dit ten doel het om my te verander. My te troos, te onderrig en ‘n metamorfose in my lewe te veroorsaak, sodat ek anders kan hoor, sien en praat.
Michael Casey skryf: “The Bible is an instrument of salvation only because it challenges our habitual beliefs, attitudes and behaviour. As soon as it begins only to confirm and reinforce our own views it is reduced to the status of a hand puppet. It no longer conveys an alternative. It simply parrots our own opinion”. Verlang ons om deur God se Woord verander te word? Of moet die Woord soos ‘n pappegaai my opinies bevestig?
Johannes herinner ons dat Jesus die Woord is wat mens geword het. Jesus se menswees help ons om te wys hoe God deur die Bybel ons wil verander na dienende mense vol deernis en liefde vir alles en almal. Verenig in God en gelei deur sy Heilige Gees.