Badisa Gansbaai
Badisa is ‘n geloofsgebaseerde maatskaplike welsynsorganisasie wat professionele maatskaplike dienste lewer. Badisa lewer maatskaplike dienste aan almal in nood, ongeag hul ouderdom, geslag, nasionaliteit of geloof en is dus inklusief vir almal.
Badisa dek ‘n wye spektrum van maatskaplike welsynsdienste in 4 fokusareas, nl. Kinders en gesinne, ouer en gestremde persone en hul families, asook persone met middelafhanklikheid.
Badisa Gansbaai het gedurende Julie 81 persone gehelp met noodleniging en gedurende Aug 102 persone. Ons voorsien daagliks sop aan behoeftiges en gee ook kospakkies aan gesinne wat in nood is. Ons wil graag ons vrywilligers wat op ‘n gereelde basis vir ons van sop voorsien baie, baie dankie sê.
Ons kantoor het ‘n groot behoefte aan kinderklere, seuns of dogters, enige ouderdom. Ons gee op ‘n gereelde basis klere aan behoeftiges.
Gedurende die wintermaande het ons lekker warm sop uitgedeel. Dit raak nou warmer en wil ons graag bietjie kos vir ons mensies gee. As u dalk te veel kos voorberei en nie weet wat om daarmee te doen, skep dit gerus vir ons in ‘n bakkie en bring dit vir ons of ons kan dit by u kom haal. So kan dit weer versprei word aan ons daaglikse kliënte wat iets soek om te eet.
Kontak ons gerus vir enige navrae, skenkings of donasies.