OM GOD IN DIE “KLEINE” TE SIEN
Daar word vertel van ‘n prediker wat sondag na sondag dieselfde lied laat sing het, Ps.146:1 en 8 (uit ou Psalm- en Gesangboek). In hierdie twee verse word die grootheid van God besing. “Prys die Heer …” en “Dis die God der Leërmagte, troue bondsgod van weleer ...”. Die verse tussenin vertel van die Here wat getrou is aan hulle wat swaar kry, aan hulle wat nie leef met ‘n pryslied in die hart en op die lippe nie. Oor armes, weduwees, honger-iges en gevangenes aan wie die Here reg geskied, word nooit gesing nie. Hierdie twee verse het mettertyd ‘n spesifieke beeld oor God by die lidmate geskep. Hy is die God van “groot dinge” van wie “groot dinge” verwag kan word. Deist skryf: “As jy so op die groot dade van God ingestel is, kan jy skaars dink, laat staan verwag, dat Hy jou soms kan verras deur heel onopsigtelik te werk te gaan”
Die Bybel is vol verhale van God se grootheid. God is inderdaad die God van “groot dinge”. Maar die Bybel sê Hy is ook die God van die “klein dinge”. Hy gebruik muggies en blinde vlieë om die farao tot nuwe insigte te bring, Jesus gebruik die beeld van ‘n mosterdsaadjie om oor die koninkryk van God te praat. Wanneer God mens word, vind dit nie op ‘n asemrowende wyse plaas nie. Sy geboorte is omhul met skande, sy ma is ‘n ongetroude tienermeisie en sy pa ‘n arm skrynwerker. “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?”(Joh. 1:47). Tog sou hierdie Kindjie ware verlossing bring vir ‘n wêreld, vasgevang in die kettings van wanhoop. Hy bring verlossing, hoop, geregtigheid, en oorwinning oor die kwaad langs die weerlose weg van die kruis en die dood.
Ons moet leer om God in die alledaagse, in die doodgewone raak te sien.
Kersfees help ons om die Groot God in die klein dinge soos liefde, omgee, geregtigheid, vriendskap, gasvryheid, kuier saam met kinders/kleinkinders, familie en vriende, ensvoorts, raak te sien.
Die gemeente Gansbaai bid dat elkeen van u hierdie kersseisoen geseën sal word deur die God van die “Kleine dinge”.