Ons gemeente ondersteun die werk van sendelinge in die Makhathini-vlakte, finansieël, geestelik en andersins.
Besoeke vind wedersyds plaas.
Louwrens van der Westhuizen dien tans as predikant op die Makhathini-vlakte. Die predikants-egpaar is ‘n tyd gelede aangerand en beroof, maar is steeds positief oor hulle bedieningsroeping. Hulle bied gereeld kampe aan vir die weeskinders en het ook ‘n Mannebyeenkoms in die gemeentesentrum op Mapaya aangebied wat baie goed bygewoon is. Voorts het hulle ‘n uitreikgeleentheid gereël om die Evangelie met Chinese te deel.
Bongenkosie (Bongi), Makhathini se Evangelis, is vir 3 wyke verantwoordelik. Hy word deur ons gemeente ten opsigte van sy salaris ondersteun, waarvoor hy sy opregte waardering teenoor die gemeente uitge-spreek het. Bongi se vrou, Lindiwe, is tans besig om onderwysopleiding te deurloop. Ons gemeente se Vrouediens betaal hiervoor. Sy het ‘n paar jaar gelede ‘n crechè vir kleuters in Kwandaba op eie inisiatief op die been gebring. Tans is daar 60 kleuters in haar crechè wat onderrig word. Lindiwe het ‘n skrywe aan Gansbaai se vroue gerig waarin sy haar dankbaarheid vir die ondersteuning uitspreek. Sonder hierdie ondersteuning vir haar opleiding, het sy gesê, sou sy nêrens gekom het nie. Tydens ‘n onlangse besoek deur ‘n groep Amerikaners, was hulle baie beïndruk met haar crechè en met die werk wat sy daar verrig. Hulle het aangebied om behoorlik voorsiening te maak vir die opgradering van haar fasiliteite.
Bid asseblief vir hierdie wonderlike werk wat gedoen word, dikwels onder moeilike omstandighede.