Dit is nie net Jesus se “Ek is” uitsprake wat ons vanuit ons hart moet hoor nie, maar ook sy woorde gevul met paradoks en misterie.
Die Johannesteks vir die week gebruik die bekende beeld van die koringkorrel wat moet sterf: “Ek sê vir julle as ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf dra dit baie vrug.” (Johannes 12:24) Dit is ten diepste die misterie van Pase wat gedurende Lydenstyd opgeroep word. Dat lewe volg op sterwe. Dat ons die lewe vind as ons dit verloor. Die paradoks se fondament is ‘n kennis van God in Christus. Dat God die bron van lewe is, dat Christus se dood lewe in oorvloed beteken het. Dat God se Heilige Gees my kan verander as ek aan my ego sterf. Ook in die woorde moet ons soms net rus juis omdat ons sukkel om dit te verduidelik. Jan Richardson skryf: “To cease from wrestling with the questions and the mysteries and simply rest with them and give in to them. To secret our souls like a seed in the earth.” Ons karring mos nie met sade as hul eers geplant is nie. Ons gee hulle oor aan die wonder van die natuur en ons val ook soms terug in die die grond vir die wonder van God se lewe.