n Vreemde gemeenskap
Pinksterdag is die geboortedag van die kerk. Die kerk is ‘n vreemde fenomeen - ‘n baie vreemde gemeenskap. Meeste ander organisa-sies of klubs waaraan ons behoort ontstaan uit menslike inisiatief en die lede het gedeelde be-lange. Die kerk daareenteen is ‘n skepping van die Drie-Enige God, ‘n nuwe gemeenskap, geskep deur Woord en Gees. Die kerk is groter as taal, kultuur, geografie en nasionali-teit. Ons ervaar kerk in die gemeente waar ons is, wat ‘n plaaslike teken is van God se groter genade. God het gekies om deur mense in die wêreld te werk en die kerk is ‘n sigbare teken daarvan. Al wat mense in ‘n spesifieke uitbeel-ding van kerk aan mekaar bind is dat hul almal geliefdes is van God. Nog vreemder is dat die kerk nooit kerk is ter wille van haarself nie. Die aanstoot van hierdie gemeenskap is dat dit nie altyd daar is net ter wille van die belange van die mense wat aan ‘n spesifieke gemeente behoort nie, maar juis ter wille van die belange en menswaardigheid van die groter gemeenskap. Die kerk is deel van God se sending na die wêreld toe. God wil die wêreld heel hê en daarvoor is die kerk ‘n instrument. Die kerk is ‘n vreemde gemeenskap. Dit is nie ‘n besigheid nie, dit is nie ‘n klub nie, dit werk nie met die samelewing se reëls vir suskes nie. Eintlik is dit ten diepste ‘n ruimte waar ons leer om lief te hê, want dit is hier waar ons moet ontdek hoe God se liefde vir ons lyk en daardie liefde is so verrassend dat ons nie daaroor kan stilbly nie. Ons word hier geleer om God se passie vir ‘n heel wêreld na te streef. - Dr Lisel Joubert