Strandnaweek vir Herbergkinderhuisdogters
Die naweek van 12 en 13 Oktober 2019 was ‘n heerlike, bedrywige en baie suksesvolle naweek met 15 dogters van Herbergkinderhuis by ‘n strandhuis op Aghulhas. Hulle arriveer teen 17:00 Vrydagmiddag met Bettie, die huisma, en Alwina, haar assistant.
Elke dogter en die twee personeellede is met ‘n geskenksakkie met toiletgoedjies en snoeperye verwelkom.
Na aandete word Bingo gespeel.
Saterdagoggend is almal Bredasdorp toe waar twee dames vandaar die groep ontmoet. Die dogters ontvang elkeen R300 waarmee hulle vir hulself klere kan koop. Hulle is ingedeel 3 per tannie en het heerlik geshop!
By Sea Shack Restaurant smul almal aan vis en skyfies, koeldrank en draairoomys. Swem het natuurlik nie uitgebly nie. Vir aandete het die ooms wors gebraai en is daar heerlik gesmul aan worsrolletjies.
Ronel het ure gestaan en pannekoek pak. Dit was ‘n treffer! Daarna word name, vanne, diere en dorpe gespeel (wie onthou dit nog?) Groot pret gehad met die name wat daar uitgekom het.
Sondagoggend na ontbyt vertrek almal weer. Dankie aan Mima, Ronel en Japie Snyman, asook Marie en Edward de Kock vir heerlike spanwerk!