‘n Hardkoppige liefde
Die enigste lens waardeur ek regtig na die evangelieverhaal, vanaf Jesus se geboorte tot hemelvaart, kan kyk is liefde. Lydenstyd maak nie sin sonder liefde nie. Liefde is egter ‘n tricky woord. Meestal dink ons aan liefde as ‘n gevoel. In die Bybel is liefde veel meer as dit. In die Ou Testament word ons herinner dat liefde ‘n keuse is - ‘n hardkoppige keuse. God openbaar Homself in Eksodus 34:6 as ‘n God vol “liefde en trou” (hesed we emet), die Hebreeus kan ook vertaal word met “steadfast love and faithfulness”. Hesed is hardkoppige liefde. ‘n Liefde wat kies en hardkoppig bly by die keuse. ‘n Liefde wat kragtig vasklou aan ‘n belofte ten spyte van. Dit is die liefde van God vir ons. Die liefde wat Johannes van praat as hy skryf dat werklike liefde nie die liefde is wat ons vir God het nie, maar die liefde wat God vir ons het (1 Joh 4:10). Hierdie liefde is baie meer as ‘n gevoel.