Lydenstyd - Is die Here by ons of nie?
Een van die tekste wat die Sondag wat verby is deur baie gelowiges oor die wêreld gehoor is is Eksodus 17: 1-7. Die volk Israel is in die woestyn en daar is niks water nie. Ons is geneig om die verhale te lees vanuit die uitkoms (daar kom mos water), maar dan kan ons nie die angs beleef van duisende vroue en kinders in die hitte met niks om te drink nie - wat met reg wonder of God omgee. G’n wonder hulle vra: “Is die Here by ons of nie?” As ons die vraag bietjie omgooi kan dit wees dat dit vra: Waaraan meet ons die Here se teenwoordigheid? Deur die eeue het gelowiges al die ervaring gehad dat God se verborgenheid vir hulle ‘n groter werklikheid is as sy teenwoordigheid. So ook het gelowiges moes leer om te vertrou op dit wat nie altyd sigbaar is nie. En as die water kom, kom dit uit die mees onverwagse bron – ‘n rots. Belden Lane in sy boek “The Solace of fierce landscapes” skryf dat God soms rof speel.Dat Hy ons uitlok om ons te kan oorlaai met liefde. Ons wil net nie altyd so speel nie. Ons soek die versigtige spel waar ons altyd weet waar ons staan. Lane skryf: “Only a bold and rowdy playfulness can draw the whole of what I am to the God who toys with death for the sake of stubborn love.”