COVID-19 Virus
Na aanleiding van die presidensiële rede gelewer 15 Maart 2020 het die dagbestuur op 16 Maart 2020 vergader.
Daar is verskeie besluite geneem rakende die werklikheid van die COVID-19 virus. Die dagbestuur is van mening dat ons nie die besluite neem vanuit ‘n plek van vrees nie, maar dat ons eerder as gemeente wil deel wees van die oplossing. Dit beteken dat ons in ons normale omgang die verspreiding wil probeer bekamp sodat die mees weerlose onder ons na die beste van ons vermoë beskerm word. Ons vra dat die gemeente ons hierin sal ondersteun, dat u uself sal beskerm, ander se vrese sal respekteer en dat ons steeds as kerk diensbaar sal wees tot mekaar.
Die volgende besluite is dus geneem:
1. Pearlybeach basaar word voorlopig uitgestel (nuwe datum sal deurgegee word).
2. Gansbaai Basaar word voorlopig uitgestel(nuwe datum sal deurgegee word) Ons vra wel dat daar steeds voortgegaan sal word om produkte vir die mark in te samel.
3. Die Vrydagmark word onmiddellik gestaak. Daar sal weekliks heroorweeg word wanneer die mark weer oopmaak.
4. Ons is baie hartseer dat ons die gesamentlike diens(saam met die VGK) van 29 Maart moet kanselleer.
5. Daar sal 22 en 29 Maart en 5 April dienste wees in beide die kerk sowel as in die saal. Hierdie dienste sal geskied met die volgende reëls.
a. Ons vra ons bejaardes en mense met gesondheids probleme, om hul eie gesondheid eerste te stel en die bywoon van eredienste ernstig te heroorweeg.
b. Ter wille van die kommer, van ander rondom u, vra ons dat alle persone wat nie gesond is nie, nie die dienste sal bywoon nie. Selfs as jy weet dat jy nie die gevreesde COVID-19 virus het nie.
c. Ons vra dat persone wyd uitmekaar sal sit. Daarom word voorsiening gemaak vir 2 dienste sodat die wat bywoon vir mekaar sowat 3m spasie kan gee.
6. Weens die groot getalle wat tydens Paasnaweek eredienste bywoon word beide dienste sowel as die nagmaal afgestel. Die Paaskunsuitstalling sal wel
plaasvind. Dit geskied in die vorm van Die stasies van die kruis en dit sal ‘n meditatiewe aard hê. Die getalle wat deurbeweeg sal gereguleer word en julle is welkom om
Vrydag en Sondag op die normale kerktye die uitstalling te kom geniet sowel as op ander tye wat later geadverteer sal word.
Ons moedig ons gemeente aan om in hierdie tyd juis te fokus op ons diensbaarheid as kinders van die Here en dat ons ‘n kalm teenwoordigheid sal wees midde in die paniek rondom ons.