Die God van alle Troos
Jesaja 40 begin met die woorde: Troos, Troos my volk sê julle God (Comfort Comfort my people). Die 83-vertaling se uitroep “Die uitkoms is hier!” laat nie reg geskied aan die woord en konsep van troos nie. Die ballinge ver in Babilonie hoor in die woorde hoop, bevestiging dat God hulle nie verlaat het nie en dat God “tenderly” (NRSV) met hulle praat, dat God hulle toekoms gaan verander. Ons kry die spel van God as Trooster ook in 2 Korinthiers 1 waar ons hoor van die God van bemoediging (God of all comfort) in alle omstandighede. Hierdie troos is nie bloot die afdroog van trane nie, dit is ‘n belofte van ondersteuning en krag. Die Engelse woord “Comfort” kom van die Latyn “comfortare”, met die woord “fort” in die middel. Die God wat ons stewig laat staan. Dit is ook dieselfde woord wat ons vind in Psalm 24 “U stok en U staf die vertroos my.” Hierdie is nie ‘n bolangse uitspraak van “toemaar” nie. Nee, dat God die God van troos is in wie ons kan rus, is deel van gelowiges se getuienis deur die eeue. Dit is hoe God Godself openbaar. G’n wonder die Heidelbergse Kategismus begin met die vraag: “wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?”nie - natuurlik dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.