Lydenstyd: Gemeenskap van die Heiliges
Met die skielike omdop van die daaglikse en normale wat beteken dit om deel te wees van die gemeenskap van heiliges? Is dit gelowiges wat in dieselfde gebou of vertrek is of is dit groter as dit? Wat bind ons saam? Natuurlik die dood en die opstanding van Jesus Christus wat deur sy Heilige Gees ons ingeweef het in sy Liggaam. Ons is gebind deur liefde. Hoe lyk die liefde? Ons bid omdat ons liefhet, ons behou kontak omdat ons liefhet, ons skenk geld aan die wat ewe skielik vasdraai omdat ons liefhet, ons praat hoop en vreugde omdat ons liefhet. Liefde jaag niemand op hol nie, versprei nie valse inligting nie, verkondig nie vrot teologie of stuur ketting-whattsapps nie. Liefde is kreatief en vind maniere om te ondersteun en by te staan. Liefde word nie verhinder deur die mure van my huis nie. Liefde word stil in die teenwoordigheid van God en laat toe dat Hy my verander sodat ek in my menswees ander kan aanraak. Liefde loof en dank ook te midde, want God is die bron van liefde. Daar waar liefde en deernis is, daar is God die Heer.