Wie is God?
Dit kan gebeur dat in ‘n tyd van onsekerheid of lyding ons verhoudingsprobleme ontwikkel. Ek bedoel nie nou met die mense wat nou saam met jou in die huis is nie (dit kan ook gebeur). Ek praat nou oor die verhouding tussen jou en God. Skielik wonder jy of Hy die God is wat jy altyd verwag het Hy moet vir jou wees in ‘n moeilike tyd. Hy doen nie wat Hy moet doen nie (ons wil so graag superhero God hê wat alle krisis net wegvat), of Hy voel so ver weg. In Galasiers herinner Paulus die gemeente dat hy gekies is om ‘n geheimenis bekend te maak. Die geheimenis skryf hy vir hulle is: “Christus is in julle. Hy is julle hoop op heerlikheid.” Hy herinner hulle dat hulle aan Christus verbonde is en dat die volle wese van God in Christus beliggaam is (Kol 1: 27; 2: 6, 9). Willem Nicol in sy boek “Oop vir die oomblik” verwys na die Middeleeuse teoloog Bonaventura wat geskryf het: “God se sentrum is oral en sy omtrek nêrens.” Deur die eeue het gelowiges nog altyd figuurlik van moeilike tye as woestyntye gepraat. Woestyne is plekke waar ons gestroop word van dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Woestyntye is egter ook tye van groei en ontdekking. Miskien moet ons verby ons default Godsbeeld gaan, daarvan gestroop word en oop wees vir nuwe ontdekkings oor die God in wie ons leef beweeg en is en wat Homself aan ons kom wys het in Jesus.