21 Dae 21 Psalms: Dag 6
1. Word stil. Maak jou oë toe en word bewus van jou asemhaling. Jy kan jou hande op jou ribbes plaas en voel hoe jou lyf beweeg. Dank God vir die asem van lewe.
2. Dank God vir 5 dinge in jou lewe hier en nou. Miskien dinge wat jy ‘n maand terug as vanselfsprekend aanvaar het.
3. Lees Psalm 22 stadig deur. Dit is ‘n langerige Psalm so moenie in versoeking verval om dit te spoedlees of net te “scan” nie. Dit help as jy hardop lees want dan lees jy outomaties stadiger.
4. Miskien klink van die gedeeltes vir jou bekend. Daar is baie aanhalings uit Psalm 22 in beide Lukas 23 en Matteus 27 se vertelling van Jesus se kruisiging. Dit is juis hierdie Psalm van verlatenheid wat taal gegee het vir Jesus se ervaring van verlatenheid en die kruisdood.
5. Is daar ‘n spesifieke reël of frase waarmee jy kan identifiseer? Skryf dit neer.
6. Kyk of jy die draaipunt in die Psalm kan kry waar verlatenheid verander in lof.
7. Lees die gedeelte uit ‘n meditasie wat ek die afgelope tyd geskryf het:
Die bekende Duitse teoloog, Jurgen Moltmann was ‘n in ‘n Britse kamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy het homself nie werklik as ‘n Christen beskou nie en as ‘n jong man wegbeweeg van die geloof. In die kamp was daar wel ‘n Nuwe Testament en Psalms beskikbaar. Hy het die Psalms gelees en die rouheid daarvan het hom getref. Hy het besef dat hy meer van die God wil leer voor wie jy eerlik jou vrese, angste, twyfel en ongeduld kan verwoord; voor wie jy niks hoef weg te steek nie.
8. Iemand het eendag geskryf dat Jesus van God verlate was sodat niemand ooit weer van God verlate sal wees nie. Kom ons onthou: God is ook in die niks. Ons ervaring dat God soms ver is is bloot ons sintuiglike en gemoedspersepsie, nie die realiteit nie. God is altyd nader aan jou as jou eie asem.