21 Dae 21 Psalms: Dag 10
1. Gaan sit vandag op ‘n ander plek. Raak rustig en kyk na jou situasie as te ware vanuit ‘n ander hoek. Wat let jy op?
2. As jy kan/wil kyk op You Tube vir die sanggroep U2 se lied “40”, dit is toonsetting van die eerste verse van die Psalm. Luister daarna. Miskien meer as een keer.
3. Lees Psalm 40 stadig deur.
4. Soos baie Psalms beweeg die Psalms deur ‘n klomp emosie. Ons verstaan nie noodwendig die oorspronklike konteks nie, Dawid was baie keer in gevaar en diep bewus van politieke vyande. Baie anders as ons lewe. Tog hoor ons sy hart en ons hoor ons eie hart. Lys 5 dinge wat die Psalmdigter vir God vra of sê waarmee jy kan identifiseer.
5. Die eerste verse beeld ‘n modderige put, amper soos ‘n moeras uit. Die Ou Testamentiese mens het die doderyk (sheol) beskryf as donker gat, plek van stof en baie keer as ‘n put. Hierdie verse beeld ‘n angsbeskrywing uit. (Kyk ook Psalm 88:7). Die persoon voel verlate en vasgevang. Kan jy hiermee identifiseer?
6. Let op na die werkwoorde in vers 1-4. Lys die werkwoorde. Wie is die onderwerp en wie is die voorwerp? Miskien kan jy prent teken van God wat jou oplig uit iets uit.
7. Watter nuwe lied het God in jou mond gelê? Watter bekende lied kom nou in jou gedagtes op?
[Direkte Vertaling:
Vers 3) Hy het my opgetrek uit die dreunende put, uit die modderige slik,
Hy het my voete op ‘n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee.
Vers 6a) U, Here my God, U het so baie wonder gedoen,
U het soveel planne vir ons…
Vers 9) Wat U behaag, my God, wil ek graag doen,
U wet is in my binneste].