21 Dae 21 Psalms: Dag 18
DAG 18: PSALM 104
1. Gaan buitentoe as dit moontlik is. Kyk hoeveel verskillende tipes plante, insekte, diere of enige iets van die natuur jy kan sien. Word bewus daarvan hoe hulle ten spyte van omstandighede aangaan met hulle lewensprosesse.
2. Ruik die natuur en luister, gebruik al jou sintuie om “buite” te beleef.
3. Lees Psalm 104 ook in lig van wat jy in die natuur beleef het.
4. Die Skeppergod is die een wat mag het oor die chaosmagte: In vers 6 (Direkte Vertaling) lees ons van die oerwaters, die chaos wat die Ou Testamentiese mens gevrees het, maar hier God gehoorsaam. Die Hebreeuse woord “tehom” wat hier gebruik word dui op die oerchaos van Genesis 1 waar God se Gees oor die “tehom” gesweef het. In vers 26 kry ons die Leviatan, ook ‘n chaosmonster wat die mens van daardie tyd geglo het in die see bly en hulle voor vreesbevange was, maar die Skeppergod het hom as speelding gemaak! Alle chaos is onder God se hand, Hy het ook daaroor mag.
5. God in die Psalm is dan ook die Versorger, die gewer van die lewensasem. Word weer diep bewus van alles wat lewe in die natuur rondom jou.
6. Ek deel ‘n meditasie:
Lewegewend
In Psalm 104: 30 lees ons: “U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.” Die 1953-vertaling maak dit nog meer beskrywend: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” Elizabeth Johnson in haar boek “She who is” identifiseer die werk van die Gees onder ander as “vivifying”, wat mens kan vertaal met “lewegewend”. Hoe lewegewend? Glad nie bolangs nie, die Gees van Christus werk nie kosmeties nie, dit maak heel van binne na buite, en van buite na binne. Johnson skryf: “…the vivifying power of the divine Spirit comes to expression most intensely in fragmentary moments of renewing, healing, and freeing when human imbecility and destructive ill will are held at bay or overcome and a fresh start becomes possible”. Dit is nie mensewerk nie. Dit is God se Gees wat die gras laat groei en lewe gee in dooie harte.