Oordenking - Luister met geloof
Teks: Ps 139
Die huidige grendeltyd word verskillend beleef deur verskillende mense. Sommige ervaar dit as negatief en ander sien weer die positiewe daarin raak.
Ons kom in die grendeltyd in aanraking met die verwaarloosde, selfs vergete, vermoë van luister. Ons leer weer luister na mekaar, ons eie gedagtes en na God se skepping.
As gelowige leer ons opnuut luister met geloof. Robert Wicks sê ons moet leer om met geloof te luister na die gedagtes van ons hart, oortuigings en lewensbeskouings. Luister met geloof kan tegelyk ‘n angswekkende en bevrydende ervaring wees.
Word stil en luister vir ‘n oomblik na jou diepste gedagtes, begeertes, oortuigings en lewensbeskouing. Wie is hierdie mens wat ek in myself ontdek? Hoe is hierdie mens wat ek in diepe luister leer ken? Wat wil God my leer van myself in die luister met geloof?
Tomas Merton se opmerking oor ‘n “rein” en “onrein” hart, help ons verstaan waarom luister met geloof ‘n onstellende ervaring kan wees. "The ‘impure’ heart is a heart filled with fears, anxieties conflicts, doubts, ambivalences, hesitations, self-contradictions, hatreds, jealousies, compulsive needs, and passionate attachments. All these and thousands other ‘impurities’ darken the inner light of the soul but they are neither its chief impurity nor the cause of its impurities. The inner, basic, metaphysical defilement of fallen man is his profound and illusory conviction that he is a god and the universe is centered upon him”.
Soos die Psalmdigter in Ps 139, wil ons met ons gebroke self van hierdie God wat ons deur en deur ken, weg vlug. Ons wil van die God wat ons beter ken as wat ons onsself ken, wegkom. Soos die Psalmdigter ontdek ons terselfdertyd dat die veiligste plek om met ons verwarde self heen te vlug, God self is.
Kom ons vind rus in God met die gebed op ons lippe: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak..”
Amen