Oordenking: Liefde Geklee in Diens en Deernis
Teks: Johannes 13:1-17
Die vernietigende krag van ‘n veldbrand is onstellend om te aanskou. Wanneer die Haemanthus sanguineus (veldskoenblaar) sy verskyning in die swart gebrande aarde maak, staan hierdie blom, met sy pragtige rooi kleed, asemrowend mooi teen die donker agtergrond uit. Die blom word ‘n teken van hoop. Die blom se helder rooi kleur oorskadu die swartgebrande omgewing. Dit is opvallend. Jy sien dit dadelik raak.
Dieselfde kan gesê word van liefdevolle gebare en dade van deernis in tye van angs, stres, moedeloosheid en depressie. ‘n Glimlag, woorde van bemoediging, ‘n telefoon oproep na ‘n bejaarde ouer, luister na jou kinders, versorging van jou huwelik, help met huis skoonmaak en oomblikke van humor en lag, is dade van diens wat tekens van hoop word. Kenneth Leech sê: "A facial expression or a warm hug is more than a symbol, it is a sacrament, for it expresses and conveys the personality behind it”.
Gelowiges kan in hierdie grendeltyd voel hulle wil meer doen vir hulle naaste as die bietjie waartoe hulle tans instaat is. ‘n Glimlag, telefoonoproep, woorde van bemoediging kan tog nie genoegsaam wees nie? Daar word immers van ons as gelowiges gevra om betrokke te wees by ons naaste en ons wêreld in nood. Om by bogenoemde beeld aan te sluit, ons voel ons moet meer doen om die swart gebrande aarde se skoonheid te herstel. Ons voel hoe skuldgevoelens in ons geloofsgrond wortelskiet in die afwesigheid van “groot” dade van diens.
‘n Opmerking van R Wick, kan ons help om in hierdie tyd nuut te dink oor die gestaltes van naastediens: “Too Often in our search to do something dramatic we miss the opportunity to do something important because the act doesn’t seem worthy enough. We are unable to see the symbolic greatness of the small caring presence we can be in a world seemingly overwhelmed by troubles and stress”.
Wanneer Jesus in Johannes 13 in die teenwoordigheid van Sy dissipels is, doen Hy niks dramaties of buitegewoon nie. Inteendeel, Hy doen die onaanskoulike doodgewone. Hy was Sy dissipels se voete. Hierdie daad van diens, word die draer van hoop. Jesus se was van Sy dissipels se voete word die veldskoenblaar (teken van hoop) in ‘n lewelose wêreld.
Neem tyd en word stil in die Here se teenwoordigheid. Oordink die boodskap van Johannes 13 en die oordenking gedagte. Vra die Here om vir jou in hierdie tyd te help om met doodgewone dade van menslikheid die buitegewone hoop van die Evangelie uit te dra.
Gedagte vir nadenke.
“You don’t think your way into a new kind of living. You live your way into a new kind of thinking….” (Uit: Living simply in a anxious world).