Oordenking: In Diens Van God
1 Kor 1:18-31 en 1 Kor 3:1-9 (vers 9)
Liefdesdiens (aan naaste en skepping) is ‘n wesenlike deel van die geloofsweg. Die gelowige se roeping is om te dien.
Hierdie diensweg is ‘n gevaarlike en uitdagende weg. Op hierdie weg ontmoet ons twyfel en moedverloor. Is my bietjie diens genoeg? Staan die weg van diens (voetewas) werklik ‘n kans teen die oormag van armoede, verval en ellende? Het Moeder Theressa werklik gedink haar liefdesdiens gaan ‘n verskil maak aan die enorme ellende in Kalkutta? Twyfel en Moedverloor laat ons wonder of al ons pogings nie nutteloos en tevergeefs is nie. Wanneer ons min resultate sien op ons harde dienswerk, groei moedverloor en twyfel al groter. Hierdie tergende vrae wat ons geloofswêreld teister, bring ons by nog ‘n belangriker vraag: Wat motiveer ons om dienswerk te doen?
Dink aan ‘n persoon wat ly aan depressie. Dit is vir hierdie persoon moeilik om energie te vind vir die dag wat voorlê. Soggens is dit moeilik om uit die bed te klim. Oefening of Sosialisering met ander mense vra eenvoudig te veel emosionele energie. Hierdie aktiwiteite is egter nodig om die depressie te help oorwin. R Wick skryf hieroor: "In a sense,we are asking the depressed person to act on faith, not what his/her thoughts are telling him/her to do” (R Wick).
Dit is ook waar van die weg van liefdesdiens. Op hierdie weg word van die gelowige gevra om, in die geloof, te vertrou dat ons dade van diens nie nutteloos en tevergeefs is nie. Om nie toe te gee aan die stemme van moedverloor en twyfel. Ons doen nie liefdesdiens vir die resultate daarvan nie.
“The only purpose is, in love, to be of service to God: to be in the fullest sense of the message - to be a fool for Christ! This is the gamble we call “Christian living”. Die gelowige se roeping is om God te dien (1 Kor 3:9). Alle vorme van diens aan ons naaste en die skepping word gebore uit hierdie roeping. Die Christelike weg van diens, vra ‘n diepe verhouding met God in wie ons vertrou in tye van moedverloor en twyfel. “And that is why in these anxious demanding times, we must take the most radical and useless step the eye of the world have ever seen. We must pray” (R Wick).
Nota: In die volgende oordenkings gaan ons besin oor ons verhouding met God drie - enig en gebed as ‘n lewe in God.