Oordenking: My Stukkende Beeld
Gen 3
In Gen 3 kom die paradysverhaal, die verhaal van goeie gesonde verhoudings, tot ‘n tragiese einde. Die mens het in die waan dat hy ‘n god kan word, gekies om te eet van die boom van alle kennis. In ‘n oogwink is al die verhoudinge waarin die mens gestaan het, deurgesny. Hiermee het die mens opgehou om ‘n sinvolle bestaan te voer, trouens die mens het gesterf.
Baie mense dink God was in Gen 3 baie genadig toe die mens nie gesterf het nadat hy van die vrugte geëet het nie. Maar lees ons die verhaal reg, ontdek ons die mens het inderdaad gesterf. Hulle het wel nog asemgehaal, bestaan, maar die mens het opgehou om sinvol te leef. Want om waarlik te lewe, is om verantwoordelikheid te aanvaar vir alle lewe op aarde: plante, diere en medemens. Om te lewe beteken om vir die lewe te sorg, beteken om in verhouding te staan met alle ander vorme van lewe. Die oomblik dat jy nie meer vir alle lewe op aarde sorg nie, steek jy die verbode vrug in jou mond en dan sterf ons. Dit is presies wat in die tuinverhaal gebeur het, die mens het gesterf in al sy verhoudinge.
F Deist verduidelik hierdie doodgaan van die mens se verhoudings as volg. Heel eerste het die mens bewus geraak van hulle verskille. Verwyderende skaamte verbreek ‘n eens harmonieuse verhouding. In verse 8 en 9 lees ons hoe die mens vir God wegkruip. Vrees het nou deel geword van die God-mens verhouding. Verwyt begin die plek inneem tussen medemense.
Ondergeskiktheid maak nou sy woonplek in ‘n verhouding waar gelykheid eens alleen woonagtig was (vers 16). Die verhouding tussen mens en dier word verander in een van vyandskap (14-15). Pyn word nou deel van mens en dier se bestaan (vers 16). Volgens vers 19 vind daar ‘n verwydering plaas tussen die mens en sy arbeid. Arbeid word moeite. Hierdie doodgaan van verhoudings word ook sigbaar in die mens se verhouding met die natuur. Daar vind verwydering plaas tussen mens en natuur (vers 18).
Deist skryf: "Deur een keuse word ‘n sewevoudige geweefde draad van menslike lewensin deurgesny... met die eet van die verbode vrug het die mens gesterwe. Hulle het wel nog asemgehaal, ja; hulle het nog gevegeteer, maar hulle het nie meer geleef nie.”
Die Bybel en die geskiedenis van die mensdom getuig van ‘n verhaal waarin die mens, na Genesis 3, ‘n soeker geword het. Ons is op soek na heling vir ons stukkende beeld, swerwers op soek na God en ons ware self. DJ Smit sê dat ons tydsgees beskryf kan word as ‘n soort soeke, ’n soort leegheid en verlange. Dit word gekenmerk deur ‘n bereidheid om agter idees en idole(afgode) aan te loop - veral die wat na vore kom met beloftes van vervulling vir die soeke.
Stilword: Gebruik die stilte en alleen-wees om diep na te dink oor die verhaal van Gen 3. Hoe lyk die mens wat in die spieël van Gen 3 weerkaats word? Herken ek hierdie mens in myself en in die wêreld waarin jy leef? Wat is jou diepste verlange?
Gebed
Gevind
Drie Enige God, uit liefde het U my gevorm om U liefdevolle aangesig in die wêreld te wees.
Maar Here
Die stem van verleiding om my eie gelaat bo U te verhef, het my oorweldig.
Heilige God, ek bely
Ek het die weg gekies wat loop langs selfsug waar geen ruimte vir U of my naaste is nie.
Ek is die mens wat op my lewenspad die stemme volg van ydelheid, hoogmoed, wellus, gierigheid, gevoelloosheid, woede en onreg.
Ek is die mens wat U skepping plunder tot eer van my naam.
Ek het die mens geword wat die weg van skuldverplasing bewandel. “Dit is nie ek nie Here”.
Here, ek is die afgods- mens wie in die ver land van die Verlore seun afgesterf het.
Liefdevolle God, laat my weer drink uit die lewewekkende stroom van U genadige liefde en goedheid.
Drie Enige God, laat my in die stilte U stem hoor fluister: jy is gevind nog voor jy gesoek het. Jy is bemin nog voor jy leer bemin het. Amen