Oordenking: Tussen Eden en die Nuwe Jerusalem
Ps 42 en Filippense 3
Die Paradysverhaal vertel van ‘n wêreld waarin die mens as verhoudingswese leef voor die aangesig van God. Dit is ‘n lewe wat die moeite werd is om te leef. Dit is ‘n lewe van vergenoedheid en vervulling. Dit is ‘n wêreld waarin mens en skepping floreer soos die boom van Ps 1 wat op die regte plek geplant is. In ons verhouding met God, naaste en skepping floreer ons.
Ons het in Genesis 3 gelees hoe hierdie wêreld van floreer, van groen weivelde, verander het in ‘n dal van doodskaduwee (Ps 23), in ‘n land waar daar duisternis is(Jesaja 9:1). Ons het gelees hoe die mens verander het, soek geraak het: "Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: waar is jy?”
Kyk ons terug oor die geskiedenis, vind ons ‘n soekende mens vol onrus en onvergenoedheid. Die mens tusssen Eden en die Nuwe Jerusalem is die mens van begeerte. Ons het die mens geword wat nooit vervul word nie. Ons bly leeg voel. Ons bly rusteloos hunker na meer. Aan die hart van vele literatuur, poësie, kuns, filosofie, psigologie en teologie lê die nadenke oor hierdie begeerte mens. “This desire lies at the center of our lives, in the marrow of our bones, and in the deep recesses of the soul... Desire is the straw that stirs the soul” (R Rolheiser).
Hierdie rustelose begeerte na vervulling het ons wêreld onherroeplik verander. Ons begeertes se gejaag na rykdom, mag, sukses, status, roem, vooruitgang en genot het nie vervulling gebring nie. Ons en ons kinders beleef tans hoe die skepping geplunder is tot op die rand van ineenstorting. Wêreld pandemies het deel geword van ons lewe. Die afstand tussen ryk en arm is enorm. Die kloof tussen die maghebbers en die magteloses groei al groter. Ons beleef hoe wanhoop en swaarmoedigheid ons lewe vul. “Some are paralyzed by the thought of the world coming to a full stop... too many of us believe that human lives are and will remain bereft of meaning” (M Volf).
Hoe sal hierdie mens van Gen 3 sy weg vind na die Nuwe Jerusalem? Waarvandaan sal daar vir ons hulp kom? In die geskiedenis van die Christelike geloof, soos verkondig in die Ou Testament, Nuwe Testament en kerkgeskiedenis, is ons ten diepste nie begeer mense nie, maar verlang mense. Ons verlang, hunker na God self. Begeerte na goed en dinge het die plaasvervanger geword van hierdie diepe verlange na God. Verlang ons hele wese nog na God?
Gedagtes vir nadenke
Augustinus vertel in sy bekende “Augustine Confessions”(Augustinus Belydenisse) van sy lewe van onrus en soeke na God. Wanneer hy sy Belydenisse begin,skryf hy:” Om aan U te dink, roer ons so intens dat ons nie rus voordat ons U loof nie, want U het ons vir U geskep. Ons hart is onrustig in ons totdat dit rus vind in U” (Uit: Augustinus Belyddenissse).
Paulus skryf: “Al wat ek wens, is om Christus te ken...” (Filippense 3:10a)