Seemeeu 2020: Gemeente Finansies
Sedert die uitbreek van die Covidpandemie, is die wêreld, ons land, elkeen van u en ook die kerk - ons gemeente - vasgevang in die greep van buitengewone beperkings en uitdagings wat vervat en geskep is in talle regulasies van die grendeltyd sedert Maart 2020.
Sonder om op die detail daarvan uit te brei, is ons gemeente se finansies onder enorme druk geplaas. Die enigste bron van inkomste was en is steeds lidmate se dankofferbydraes. Opregte dank aan elkeen wat getrou en deurlopend hiertoe bydra. Sedert 3 Julie vind Vrydagverkope by die saal plaas en ook ten opsigte hiervan, baie dankie aan elke helper en ondersteuner.
Ons kan met diepe dank teenoor ons Hemelse Vader verslag doen dat die gemeente daarin kon slaag om tot datum alle noodsaaklike bedryfsuitgawes te vereffen.
Die finansiële voortbestaan van die gemeente is uitsluitlik in elkeen van ons as gemeentelede se hande om voortgeset vol te hou met die bring van ons dankoffers en die ondersteuning van elke fondsinsamelingspoging - baie dankie weereens aan elke gemeentelid vir u volgehoue ondersteuning.
Volledigheidshalwe vermeld ons graag weer die stelsel/wyses van dankofferbydraes: Insameling deur kerkraadslid/hulpwerker, die reël van 'n aftrekorder, elektroniese oorbetaling, persoonlike inbetaling by kerkkantoor, offergawe tydens eredienste en nou ook "snapscan".
Ons wil u uitnooi om met vrymoedigheid die kerkkantoor te skakel vir enige navrae en/of insette en voorstelle hieromtrent.