ADVENT 2020
Advent kom die jaar hopeloos te vinnig, wat seker te verstaanbaar is as die jaar se 12 maande gedurende grendeltyd nogal op tye inmekaargesmelt het. Ons het egter in die vier weke van Advent tog tyd om te reflekteer en onsself af te vra: Waarop wag ek nou eintlik.
Advent het te make met koms. Ons verlang om die koms van Jesus te vier op Kersdag, maar saam met dit ook na die koms wat die Nuwe Testament die parousia noem. Ons vertaal dit met wederkoms, maar dit is meer as dit. Ons verwag nie Iemand wat weg was nie, Christus is tog deur sy Gees by ons teenwoordig. Parousia het ook behalwe die betekenis van koms ook een van “unveiling” dus om sigbaar te maak. Jesus se geboorte en Christus se koms om te voltooi en te vervul het beide ‘n element van ontbloot en sigbaarmaking. Ons sien God se hart en bedoeling, sy goedheid en genade, altyd verassend anders as wat ons verwag.