Eerste Sondag van Advent
Een van die leesroostertekste vir die Sondag is Jesaja 64. ‘n Teks wat ons ook gehoor het tydens die doop op 22 November. Die woorde wat die volk deur die profeet uitroep vanuit ‘n situasie van magteloosheid en moegheid na hulle terugkeer na ‘n vervalle Jerusalem:
As U maar die hemel wou oopskeur en afdaal - die berge sal bewe van U teenwoordigheid...(Jes 64:1)
‘n Versugting dat God tog vir die nasies kragdadig kan wys dat hierdie vernederde volk se God magtig en kragtig is – Iemand om mee rekening te hou. Ons voel ook soms so: Kom wys U krag vir almal wat sien!
Die Here het die hemel oopgeskeur en afgedaal, ons en almal se angsroep is gehoor. Die hemel het oopgeskeur maar nie met tipiese triomfmusiek soos in ‘n fliek nie. Eerder, in die nag terwyl almal slaap het ‘n vrou kraampyne gekry en baba is gebore, hulpeloos en afhanklik. Hier kom God af en Hy kom slaap in die krip. Die hemel het geskeur, maar berge het nie gebewe nie; ‘n baba het gehuil.
Dit is die vreemde heerskappy van God wat ons in die seisoen vier. Die God wie se krag lê in deernis. Die God in wie se hand ons rus met ‘n diep wete, maar baie dae sonder die tekens of clues van sy teenwoordigheid wat ons soek. As jy mooi kyk is die hemel tussen ons want God is tog God met ons.