Tweede Advent (Jesaja 40: 1-11)
In Jesaja 40: 1 vind ons die God wat vir die profeet opdrag gee: “Troos, troos my volk...”. Die 1983 - vertaling se “Die uitkoms is hier...” het nie die uitroep van “troos/comfort” so mooi vasgevat nie. Die Hebreeuse woord “naham” dui dan nie op bloot troos waar ek iemand op my skoot tel en sy of haar trane afvee nie, maar dit het eerder die konnotasie van bemoediging en versterking. Ons kry dieselfde woord in Psalm 23: 4 “U stok en U staf die vertroos my”. Die woorde van troos kom na die volk in die middel van die ballingskap, en gee hoop vir ‘n uitkoms. Maar wie bring die uitkoms? Die verse in Jesaja kry dit reg om God se mag en deernis met uiteenlopende metafore vas te hou. Die Kryger-God is ook die Herder-Versorger. Dit is juis in die ooglopende paradoks waar die getuienis lê. Die God wat ons fort is, is die Kryger maar ook die Herder. Hy is die Een wat ons bemoedig ook in die 2020 se Advent, op wie ons vertrou, nie net vir Sy vreemde mag nie, maar bowenal vir Sy deernisvolle vashou van ons in Sy arms te midde van onsekerheid.