Seemeeu Desember 2020: Kersversierings met betekenis
Dié tyd van die jaar word Kersbome gesoek en gekoop. Versier-ings word uit die kas gehaal en afgestof, nuwes word gekoop.
Miskien is jy al moeg vir jou balletjies, takbokke en miniatuur Kersvaders.
Hier is paar idees om hierdie jaar jou huis te versier met kleure en simbole van betekenis, wat inval by die kerklike gebruik oor die eeue.
Die vier Sondae voor Kersfees is Advent. Advent beteken koms. Dit is die tyd wat ons as kerk in afwagting is en smag na verlossing en die geboorte van die Verlosser. Die kleure van Advent is pers/koningsblou, wit en goud. Dit is ge-bruiklik om in Advent vyf kerse te hê, wat dan weekliks aangesteek word. Drie donkerblou/pers kerse (1ste, 2de en 4de Advent); een rooskleurige kers (3de Advent) en dan ‘n wit Christuskers vir Kersdag.
Kersfees is nie bloot ‘n “geestelike” tyd nie, dit het juis te make met God se inkom in hierdie gebroke wêreld, Advent is by uitstek die tyd om daarna te smag, te midde van jou alledaagse dinge.
Daarom kan die kleursimboliek en kerse in jou huis as ‘n herinnering dien. Die kleure van Kersfees self is wit, geel en goud. Miskien kan jy dié jaar die rooi en groen bêre en hierdie kleure inbring. Simbole wat pas by dié tyd is die ster, krip, en geskenke wat die Wyse manne gebring het: goud, wierook, mirre.
Nog ‘n simbool is ‘n stomp, omdat Jesus die loot is wat gebore is uit die stomp van Isai: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” (Jes 11.1).
Die kruis in die Christelike tradisie vir Advent en Kersfees; die ’Natal’ (ge-boorte) kruis is in die vorm van ‘n ster om ons te herinner aan die verhaal van die geboorte van Jesus. Advent en Kers-tyd is ook ‘n tyd van diens en omgee en daarom is dit nie net huise wat versier word nie, maar kan julle as gesin ook miskien liefdes-projekte aanpak om ook iemand in dié tyd by te staan. Mag ons kreatiwiteit ons dankbaarheid teenoor Immaneul laat groei! ‘n Geseënde Kersfees en ‘n Voorspoedige Nuwejaar wens ons u graag toe!