Dié Jesus-Kind... en die “seer kinders” van ons dag
Luister… iewers snik daar ‘n kind.
Kerstyd is luistertyd. ‘n Nederlandse Kersgedig handel oor die seer kinders in ons wêreld, en die Christus-Kind in die krip wat die hart van dié Kersverhaal vorm. Dié gedig wil ons daartoe bring om in die Kerstyd fyn te luister.
Luister om te hóór. Om dít te hoor waarvoor ons in ons gejaagde, self-soekende lewens doof is. Om in hierdie stilwordtyd van die Kersgety die nood-geroep van seer, stukkende, verwaarloosde, ontberende, noodlydende, behoeftige kinders te hóór.
Kinders in ons wêreld. Die menigtes van die kinders in ons wêreld: baie van die kinders is nié ver nie, maar náby aan ons, digby ons… só naby, dat wie regtig ore het wat wíl hoor, dit elke dag sou kón hoor. Binne hoorafstand van waar ons elke dag ons lewens leef. Maar ons nié kan hoor nie - omdat die geraas van ons selfsugtige bedrywigheid te veel is - omdat dit die noodgeroep van die kleintjies, die geringstes, die swakkes…uit-doof. “Luister! Luister!”, sê die digter, “en hóór... iewers snik daar ‘n kind…”.
Die Kind van Bethlehem. Sal ons in hierdie Kersfeestyd, terwyl ons dink aan dié Kind, ook aan hierdie kinders dink? Sal ons deur die Kind geïnspireer word om iets te doen, iets te gee, om hierdie kinders te troos?... om hierdie kind se seer te versag?... om hierdie kind se behoefte aan te spreek? Sou die Kind nie wou hê dat ons die goud en wierook en mirre wat ons by Sy wieg kom plaas, eerder na hierdie kinders toe moet dra nie? Sou ons nie dan werklik ‘n geseënde Kersfees hê nie?
Die Kind is Koning! Die Kind is Koning en juis dit maak van God se koninkryk die (hemelse) koninkryk van geregtigheid, barmhartigheid en vrede. Dié koninkryk waarin liefde vir God prakties word as liefdesdiens teenoor ‘n medemens! - Seestrome 2013.