Advent 2020: Vierde Sondag
Die vierde Sondag van Advent is die Sondag van Liefde. Liefde is tog die enigste lens waardeur ons die Kersverhaal kan lees. Liefde is die rede dat Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, sy tent tussen ons kom opslaan het. Liefde as mag oorwin dood. Het die laaste sê.
Ons word in liefde gebore en in liefde ontvang as ons sterf. Allen Jones skryf: “Love is not normal. It is Gods’ wild card.” Liefde is God se hardkoppige vashou aan ons. Groter as ons vrese, kleingelowigheid, ons ellendes, ons flou verskonings, ons jaloesie, kleinlikheid, groter as siekte en dood, ramp. Liefde troef altyd, Liefde is altyd skaakmat. Die Vlaamse Middeleeuse vrou Hadewijch het geskryf: “Ek sê skaak, U sê mat.”
Iris Murdoch noem hierdie onvoorwaardelike liefde die “never never”: “The point is, one will never get to the end of it, never get to the bottom of it, never, never, never. And never, never, never is what you must take for your shield and your most glorious promise”.
Met Kersfees het ons ‘n tablo in ons kop: ‘n Krip met ‘n baba, Maria, Josef, herders, engele, wyse manne en ‘n groot blink ster. Dit staan alles in teken van die Skepper van die hemel en aarde wat nie vasgeklou het aan sy goddelikheid nie, maar vlees geword het en ons God kom oopbreek het sodat ons kan sien: Ons is die geliefdes.