Meditasie geskryf deur Dr. Lisel Joubert
Ek smag elke jaar na Aswoensdag. Om binne die ruimte van die liturgie en saam met generasies van gelowiges (lewend en dood) te kan sit (al is dit metafories) met as op my kop en te mag huil. Om skoongewas te word deur trane, om bewus te word dat ek nie so vry is as wat ek dink nie - om gestroop te word van alles wat ek so desperaat aan vasklou. Om te onthou Christus is genoeg - oorvloedig genoeg. Aswoensdag is die begin van lydenstyd. In sekere tradisies ontvang die gelowiges op Aswoensdag die as van die vorige jaar se palmtakke (van Palmsondag) op hulle voorkoppe, saam met die woorde: “Bekeer en glo die evangelie” of “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”. Miskien is dit juis die as op ons voorkoppe wat ons na mekaar kan laat kyk en herinner: Ons is net mens, geskape na God se beeld, altyd afhanklik, maar diep dankbaar.