Birkenhead Slagoffers Gedenk met Kranslegging
Die jaarlikse Birkenhead gedenking op Gansbaai is deur verteenwoordigers van die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum bygewoon einde verlede maand.
’n Groep belangstellendes van die buurdorp Elim het ook die geleentheid bygewoon. Die Elimgemeenskap was sedert die vestiging van die sendingstasie in 1825, oor die jare dikwels betrokke by hulpverlening aan skipbreukelinge van skepe wat in die omgewing van Quoin Point, ook bekend as Jessie se Punt, gestrand het.
Die skipbreuk van die HMS Birkenhead word sedert 1992 jaarliks gedenk ter nagedagtenis aan die sowat 450 slagoffers wat omgekom het.
Odette Weir, bestuurder van die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum en personeellid Sophia Jantjies, het namens die museum ’n krans by die Birkenhead gedenkplaat voor die vuurtoring gelê.
Vriende van die Skeepswrakmuseum het in die loop van die oggend tydens die bootvaart na Birkenhead Rock, saam met ander mense kranse van seewier te water gelaat op die plek waar die HMS Birkenhead 170 jaar gelede op die rotse geloop het.
Die geleentheid roep jaarliks die tragiese gebeure van 26 Februarie 1852 in herinnering. Die HMS Birkenhead het om 18h00 op 25 Februarie uit Simonstad vertrek met ’n geraamde 638 siele aan boord. Haar eindbestemming was Algoabaai, waar Britse troepe al geruime tyd in ’n stryd gewikkel was teen die Xhosas aan die Oorgrens van die Kaapkolonie.
’n Geskatte 450 mans, bestaande uit soldate van verskeie Britse regimente, bemanningslede en lede van die Britse Vloot onder die bevel van Kaptein Robert Salmond, het uiteindelik in die skeepsramp omgekom. Die heldhaftige en gedissiplineerde optrede van die soldate en bemanningslede het die verbeelding van digters en skilders aangegryp.
Nadat die vroue en kinders in die drie reddingsbote, wat betyds neergelaat kon word, na veiligheid geneem is, en dit duidelik geword het dat die Birkenhead binne minute onder die water gaan verdwyn, het die manskappe op aandag op die dek van die sinkende skip bly staan.
Naas 13 kinders en sewe vroue het net 173 mans die ramp oorleef. Thomas M. M. Henry het in 1893 sy skildery The Wreck of the Birkenhead, wat hy in 1892 voltooi het, ten toon gestel. Talle afdrukke van die skildery is daarna gedruk en versprei.
Sir Frances Hastings Doyle, 'n digter wat ook verbonde was aan die Universiteit van Oxford, het op sy beurt ’n gedig getitel ‘The loss of the Birkenhead’ geskryf. Die tweede vers van die epiese gedig lui:
The stout ship Birkenhead lay hard and fast, Caught, without hope, upon a hidden rock; Her timbers thrilled as nerves, when through them passed The spirit of that shock.
Dit was egter enkele reëls uit die gedig van nog ’n baie bekende Victoriaanse digter en skrywer, Rudyard Kipling, ‘Soldier an’ Sailor too’, wat ’n onuitwisbare indruk maak.
Sy verwysing na die bemanning se heldedaad as The Birkenhead Drill word vandag nog gebruik wanneer daar verwys word na die gebruik om in ’n rampsituasie eerste na die veiligheid van vrouens en kinders om te sien voordat die mans na veiligheid gebring word.
But to stand an’ be still to the Birken’ead drill is a damn tough bullet to chew,
An’ they done it, the Jollies – ‘Er Majesty’s Jollies -- soldier an’ sailor too!
Their work was done when it ‘adn’t begun; they was younger nor me an’ you;
Their choice it was plain between drownin’ in ‘eaps an’ bein’ mopped by the screw,
So they stood an’ was still to the Birken'ead drill, soldier an’ sailor too!