BARC kry ‘n LSG-Pantoffeldag verrassing
Vrydag, 6 Mei 2022 was Pantoffeldag en die dra van pantoffels werk en skool toe het vir baie pret gesorg. Laerskool Gansbaai (LSG) se onderwysers en leerders het nie teruggestaan nie en hulle het met pantoffels skool toe gegaan.
Die inpirasie van Pantoffeldag was so groot, dat hulle net daar besluit het om fondse vir BARC (Birkenhead Animal Rescue Centre) in te samel. Nols Jonas, BARC se Veldwerker het van g’n sout of water geweet nie.
“Ek het net ‘n oproep ontvang om ‘n draai by die laerskool te gaan maak,” vertel Nols. Daar aangekom, is hy deur die skoolhoof, Jonathan Doyle meegedeel dat die leerders spontaan en op eie inisiatief besluit het om fondse vir BARC in te samel. Die pragtige bedrag van R1 568.10 is aan Nols oorhandig, asook sakkies honde- en katkos. Dis nou wat spontaniteit is en dit nogal nie deur ‘n groot besigheid nie, net sommer uit die harte en op die ingewing van die oomblik deur LSG se leerders, waarvoor BARC baie, baie dankie sê!
Hardus Botha

