Gansbaai Toerisme se Toekomspad
-Status quo word gehandhaaf-
Na maande, en selfs langer, se onsekerhede oor die bedryf van Gansbaai Toerisme, is daar tydens die Algemene Jaarvergadering (AJV) op 9 Mei 2022 verneem dat die status quo tot aan die einde van Junie 2022 gehandhaaf word. Die bestaande komitee is eenparig herkies totdat groter duidelikheid verkry is.
Die afwagting was groot om te hoor of daar al finale besluite oor die kernvraag, ‘die pad vorentoe’, geneem is. Frieda Loyd, Toerisme-bestuurder Overstrand, was ook teenwoordig en het die vergadering meegedeel dat ‘n volledige mediaverklaring op 26 Junie 2022 in hierdie verband uitgereik sal word.
Intussen het Gansbaai Toerisme se bestuurder, Glenda Kitley en die personeel hulle gang gegaan. Hulle het steeds met groot lojaliteit gewerk vir die bevordering van die Toerisme-bedryf in Gansbaai.
In haar Bestuurders-jaarverslag het Glenda volledig na alle werksaamhede gedurende die jaar verwys. “Vir die eerste paar maande na die vorige AJV het bykans alles tot ‘n stilstand gekom as gevolg van Vlak 4 van die pandemie,” het sy gesê. “Gelukkig het dinge daarna begin normaliseer en kon ons verbasend baie geleenthede reël en met ons werksaamhede en vergaderings voortgaan.”
Kennis kan net weer geneem word van Gansbaai Toerismekantoor se nuwe kontakbesonderhede. Die rede vir hierdie drastiese verandering is as gevolg van die kantoor se inlywing by die munisipale sisteem.
Nuwe kontakbesonderhede:
• Glenda Kitley (bestuurder): 028 384 8325
• Doulene Els: 028 384 8307
• Toerismekantoor: 028 384 8336