Voormalige Academia-hoofseun kom kuier hier
-Bring sy suksesverhaal saam-
Izaan Newman (22), ‘n voormalige uitblinker van Gansbaai Academia, het verlede week as ‘n 3de jaar B.Com. Rek. student by sy ouerhuis in Blompark kom kuier. Sommer op dag een van sy kuiertjie ontvang hy ‘n elektroniese opdrag van die universiteit - hy moes ‘n taak oor ‘n Produserende Sisteem uitwerk vir een van sy modules, Operation Management. “Ek het besluit om nie daarvoor terug Kaap toe te gaan nie en by Gansbaai Marine toestemming gekry om hulle as ‘n voorbeeld vir my opdrag te gebruik,” vertel Izaan. “Dis mense wat ek ken en terselfdertyd kon ek aan my taak werk waar ek grootgeword het.”
Izaan het in 2019 aan Gansbaai Academia matrikuleer en het in 2020 by die Universiteit van die Wes-Kaap as ‘n B.Com. Rek. student ingeskryf. “Al het ek my 1ste en 2de jare baie goed deurgekom, was dit ‘n geweldige aanpassing vir my,” vertel hy. “As gevolg van Covid moes ek aanlyn studeer wat nie ‘n maklike taak was nie.” Nou is hy in sy 3de jaar en voel tevrede met die vordering van sy studies. “Volgende jaar is ek in my 4de en finale jaar,” vertel hy. “Daarna sal ek graag ‘n Honneursgraad wil aanpak, maar ek sal dit deeltyds moet doen, aangesien my beurse dan iets van die verlede sal wees. Izaan se prestasies is van so ‘n aard dat hy as ‘Trutor’ aangestel is om opleiding aan 1ste jaars te gee. “Dit is baie werk saam met my eie studies, maar dit is ook ‘n ekstra inkomstetjie vir my,” het hy gesê.
In 2019 het hy gesê sy drome waarna hy streef is om as ‘n geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. “Later en met voldoende ondervinding, sal ek graag as Hoof Uitvoerende Beampte van ‘n groot maatskappy aangestel wil word,” het hy vol vetroue gesê - ‘n droom wat met sy harde werk en deursettingsvermoeëns sonder twyfel haalbaar is.
Gansbaai Academia
Tydens sy hoërskooljare het Izaan buitengewone prestasies behaal, waar hy ook die leier van die gewilde Marimba-orkes was. Die skool se leuse, ‘Extendere alas vestri - Sprei jou vlerke’, is ‘n leuse wat voluit deur hom uitgeleef word. Slegs enkele voorbeelde van Izaan se hoërskoolprestasies is: 2017 1ste in graad 10; 2018 Mnr Gansbaai Academia; 2019 verkies tot hoofseun en aangewys as Topleerder en Presteerder; Prinsipaal Trofee as die Senior Leerder wat die persoonlike waardes van Gansbaai Academia verpersoonlik het; Burgemeesterstoekenning as Junior Presteerder van die Jaar - en so kan die lys van prestasies aanhou en aanhou!
Tussen al die harde werk deur, is Izaan baie lief vir teken en skilder. “Sodra ek nie lekker voel oor iets nie, skilder ek graag om uiting aan my emosies te gee,” vertel hy. Gans-Berg Nuus kan met gemoedsrus aan Izaan sê dat hy iemand is om op trots te wees en wens hom alle sterkte toe vir sy alreeds belowende toekoms.
