Tanya Kleynhans nou ‘n Vliegkaptein in Maldives
-Buitengewone prestasie vir Oud Pearly Beacher-
“Ons twee is die eerste Suid-Afrikaners binne die bestek van drie jaar wat na die rang van Kaptein op die Twin Otters van Manta Air in Maldives bevorder is,” vertel ‘n opgewonde Tanya Kleynhans, oorspronklik van Pearly Beach, van haar en haar lewensmaat, Martin Muller van Stellenbosch. Tanya se ma, Julanda, is ‘n bekende inwoner van Pearly Beach. “Ek is ook die eerste vroue-kaptein van Suid-Afrika in Maldives.” Tanya en Martin het op 21 September 2022 hulle finale vlugtoetse gedoen. Hulle is nou altwee kapteins (vier strepies) op die Twin Otters (seevliegtuie) in Maldives. “Dit is vir ons ‘n baie groot mylpaal en ons is baie opgewonde oor die pad vorentoe,” het sy vanuit Maldives laat weet.
Gans-Berg Nuus het op 21 Junie 2022 ‘n voorbladberig oor Tanya se vliegprestasies in Maldives geplaas: “Oud-Pearly Beacher maak geskiedenis in Maldives... met ‘n “all female” vlug.” Sy en twee vroue-kollegas het geskiedenis gemaak deurdat hulle alleen een van die maatskappy se ‘Twin Otters’ (seevliegtuie) tydens ‘n vlug beman het. Dit was ‘n groot mylpaal vir die maatskappy, asook vir die seevliegtuig-industrie en veral vir vrouens in die algemeen. Maldives is ‘n 100% Moslemland, wat beteken dat almal onder hulle reëls val en juis daarom was die vlug van die drie vroue absoluut uitsonderlik. Dit het ook opslae in die media gemaak. Sy het agterna vertel dat die drie van hulle in Maldives as die ‘Barefoot pilots’ bekendstaan omdat hulle kaalvoet vlieg!
In die berig is ook verwys na die tragiese vliegongeluk waarin Tanya se pa, Theo Kleynhans van Pearly Beach, op 15 Mei 2010 met sy 2-sitplek mikroligte vliegtuig neergestort en sy lewe verloor het. Tanya was toe in matriek, maar die tragiese gebeure het nie die moedige en vasbeslote Tanya ondergekry nie en sy het volwaardig in haar pa se voetspore gevolg om haarself as ‘n vlieënier te kwalifiseer. Sy het sedert 7-jarige ouderdom al saam met haar pa gevlieg en dit was tóé al haar droom om ‘n gekwalifiseerde vlieënier te word. In 2011 het sy met vliegopleiding by Aerosport in Durbanville begin en sedertdien het sy net opgang in haar vliegberoep ervaar. Tanya en Martin het mekaar in Namibië ontmoet, waar hy vir ‘n ander maatskappy gevlieg het. In Augustus 2019 is altwee van hulle na Maldives om vir Trans Maldivian Airways te gaan vlieg.
Ongelukkig is hulle 10 maande later, saam met ander Suid-Afrikaners, as gevolg van Covid uit Maldives gerepatrieër. Hulle was ‘n paar maande in Suid-Afrika waar sy en Martin haar ma, Julanda Kleynhans, by dié se restaurant in Pearly Beach uitgehelp het. In Desember 2020 ontvang hulle toe weer ‘n aanbod vanuit Maldives - die keer van ‘n ander maatskappy, Manta Air, waar hulle steeds werk. “Ons verlang bitter baie en hoop om weer Desembermaand in Pearly Beach te kom kuier!” Dit is altyd verblydend wanneer van ons eie jongmense groot prestasies in hulle beroepsjare bereik. Baie geluk aan Tanya en Martin, asook aan haar trotse ma, Julanda van Pearly Beach.
Tanya Kleynhans en Martin Muller ontvang hulle 4-strepies as gekwalifiseerde vliegkapteins.