Gesellige Mini-basaars
Die onlangse twee Mini-basaars het baie gesellig en suksesvol verloop - met welkome fondse om aan die onderskeie behoeftes te voldoen.
Deernisfonds Mini-basaar
Die Deernisfonds se mini-basaar het ten doel gehad om broodnodige fondse vir inwoners van Herberg aan See te bekom. Dit word vir ‘n vaste belegging gebruik. Die rente daarop word spesifiek vir SASA Pensioenarisse benut om hulle op ‘n menswaardige wyse te kan versorg.
Plaaswerkers Mini-basaar
Die plaaswerkers in die omgewing van Baardskeerdersbos het eweneens ‘n gesellige mini-basaar gehad. Die basaar is deur die NG-gemeente se Missionale Bediening aangebied. Basaaritems en smaaklike eetgoed kon teen bekostigbare pryse deur die plaaswerkers gekoop word. Van potjiekos, worsbroodrolletjies, slaptjips broodrolletjies, pannekoek en klere tot by ‘n mini-Wit-Olifanttafel en wat nie nog alles nie, is te koop aangebied. Dit was net breë glimlagte waar mens kon sien wat die aanbieders se harte lekker laat klop het. ‘n Baie spesiale dankie aan past Frikkie Zeelie en Bev Swart vir hulle welkome bydraes, asook dankie aan vele ander donateurs.