Ikamva se Gesondheidsdienste brei uit
Ikamva Jeugontwikkeling en Rekenaarsentrum in Blompark se Gesondheidsdienste het onlangs uitgebrei met die aanstelling van 2 gesondheids-susters, Suster Elsie Slabbert (12 September 2022) en Suster Richardene Liebenberg (4 Oktober 2022). “Ons het nou 3 susters, 2 maatskaplike werkers en ‘n hulp-maatskaplike werker, asook 27 gemeenskaps-gesondheidswerkers,” vertel Jolande Sauls, Projekbestuurder van Ikamva. “Hulle bedien Groter Gansbaai, Stanford, Pearly Beach, Buffeljachts en Baardskeerdersbos.”
Suster Gertrude Smit van die Departement van Gesondheid - Klinieke Program Koördineerder, het spesiaal kom besoek aflê. Suster Angela van der Merwe, wat ook teenwoordig was, is onlangs met ‘n sertifikaat beloon vir onbaatsugtige hulpverlening by ‘n Covid-entstasie (vaccine station) gedurende die pandemie-tydperk.
“Soos ons dankbaar is vir nuwe aanstellings, so moet ons ongelukkig ook soms afskeid neem van getroue werkers,” het Jolande gesê. Stafverpleegster Ena Geldenhuys, ‘n bekende en getroue gesondheidswerker, het besluit om na 8 jaar van getroue diens in Gansbaai en Stanford af te tree. “Ons bedank haar graag opreg vir alles wat sy oor die jare vir ons beteken het,” het Jolande gesê.
Bykomend tot Ikamva se gesondheidsdienste en maatskaplike werkers, is daar nog ander projekte soos ‘n kleuterskool en ‘n volwaardige nasorgsentrum vir laerskoolleerders. Ikamva is ‘n Xhosa-woord wat “die toekoms” beteken en dít is presies waarop daar gefokus word - die toekoms van die jeug.