Skelm teer sy pad terug selle toe
‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
Spr Kapt Danie Rautenbach was Dinsdag vir die derde dag in die getuiebank in die opspraakwekkende "Barends sindikaat" Wes-Kaapse Hooggeregshofsaak. Rautenbach het 'n deeglike oorkoepelende beeld oor dié beweerde sindikaat se onwettige perlemoenbedrywighede oor 'n tydperk van meer as 'n dekade, asook stropery in die algemeen, geskets. Hy word Maandag verder deur die 25 beskuldigdes se 12 verdedigende staats-advokate en die prokureur, Anthony Broadway, wat ook op 'n klag van geldwassery saam met die sindikaat verskyn, onder kruisverhoor geneem.
Die verdediging het tydens kruisverhoor onder andere probeer om twyfel oor die korrektheid van sy optrede tydens ondersoeke aan te toon. Bewerings om hom te diskrediteer is ook gemaak. Rautenbach kon dit egter met bewysstukke weerlê. Frankie Barends se verdediging, advokaat Nel, het aangevoer dat daar na 'n besigheidsdispuut tussen Barends en Gilbert Hart oor hul nagklubs, 'n hewige onderonsie tussen Barends en Rautenbach was. Hy het beweer dat Rautenbach daarna optredes meer op hom toegespits het. Rautenbach het dit ontken. Advokaat Nel het aan die hof na Barends se betrokkenheid en die gemeenskap verwys. Hy was afrigter van Black Leaves Rugbyklub asook skolespanne. Verder was hy teen dwelms en het musiekinstrumente vir kinders gekoop om hul van die straat af te hou. Nel het aan Rautenbach gevra óf hy hiervan bewus was asook dat daar gereeld kospakke aan die gemeenskap gegee is. "Ja, hy was 'n Robin Hood – steel van die staat en gee vir die armes," het Rautenbach geantwoord. Nel het ook verwys na die ander stropergroeperinge van Masakhane, Hawston en Pearly Beach wat nog voortgaan met hul aktiwiteite. Hy wou weet of informante nie miskien inligting aan die polisie verskaf ten einde rolspelers uit die mark te haal nie. Rautenbach het bevestig dat daar wel so 'n moontlikheid is maar dat hulle sulke inligting teen ander intelligensie weeg om die korrektheid daarvan te probeer bepaal.
Chris Crous se advokaat wou weet hoekom sekere polisiebeamptes wat op Rautenbach se organigram verskyn nie aangekla is nie en van hulle selfs Artikel 204 staatsgetuies is. "Kry hul voorkeurbehandeling," is gevra. Regter Nathan Erasmus het egter hierop geantwoord dat daar 3 polisiebeamptes tans voor hom aangekla staan en dit nie sy algemene indruk is dat daar voorkeurbehandeling is nie.
Beskuldigde 3, Jody Behr, wat ook 'n oud-polisiebeampte is se verdediging wou van Rautenbach weet wat hy van Behr dink en hoe hul verhouding in die polisie was. "Ek beskou hom as verwaand," het Rautenbach gesê, waarop Behr se advokaat geantwoord het dat sy kliënt hom as 'n rasis beskou. "In my 30 jaar diens in die SAPD was daar nog nooit sulke klagtes nie," het Rautenbach teruggekap.
Beskuldigde 5, Daniel Oktober, se vroue-advokaat Kuhn, het haar toegespits op beweringe dat Oktober dokumente uit 'n dossier verwyder het. Hy het na bewering 'n skipperslisensie van Barends, wat op 'n perlemoenbeslagleggingstoneel gevind is, uit die dossier gehaal en die dossier wederregtelik in die argief geplaas.
Johannes (Koppe) Jacobs se verdediging het in 'n strik getrap toe vrae oor Rautenbach se getuienis teen hom die deur oopgemaak het vir Rautenbach om na korrupsie te verwys deurdat Jacobs tydens sy dienstermyn by Stanford SAPD wapenlisensies aan Blomparkers uitgereik het wat nie in Gansbaai suksesvol sou wees nie. Toe daar aan Rauntenbach in die hof gevra is of iemand hom al probeer omkoop het, het hy geantwoord: "Hulle sou op die plek verbygekom het," wat impliseer dat hy so iemand dadelik sou arresteer.
Sammy Brett se verdediging het aangevoer dat daar skielik 'n mark vir perlemoen ontstaan het en dat die gemeenskap hom in 'n situasie bevind het wat hul nie geweet het hoe om dit te hanteer nie. Die gemeenskap was baie betrokke weens die maklike geld. Hy het verwys na Sammy se onsuksesvolle pogings om hulp op regeringsvlak vir die gemeenskap te soek. "Dit is 'n desperate gemeenskap waar daar nou nog nie 'n oplossing is nie," het adv Smit gesê. Oor hul polisie optredes het Rautenbach bevestig dat dit nie 'n slegte gemeenskap is nie. "Dit gee hul egter nie die reg om ons aan te rand en met klippe te gooi nie. Hulle span saam as ons in hul woonbuurt kom om perlemoen te konfiskeer."
Die saak is tot Maandag uitgestel wanneer Rautenbach se kruisverhoor na verwagting afgesluit sal word. Die projekleier van die Valke, Lize (Kabous) Potgieter sal volgende die getuiebank inneem.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.
‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...
Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...
39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.
Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...