Nkandla styl

Nkandla styl

Gansbaai Courant

Ek kan my tog so laat pla deur dinge wat vir ander mense van nul en gener waarde is.  Beginselsake.  Reg of verkeerd. Dit moet van my pa af kom. Alhoewel hy oorlede is toe ek tien jaar oud was en ‘n mens sou  kon redeneer dat sulke sware goed nie juis in ‘n kind van tien se verwysingsraamwerk inpas nie,  kan ek tot geen ander gevolgtrekking kom as dat dit daardie tyd al in my psige kom klim het nie. Hy het graag gesê – en ek glo ek het dit in gesprekke tussen hom en my ma gehoor:  “ ’n Ding is óf reg óf verkeerd en as dit verkeerd is, moet dit reggemaak word.”  Om in swart en wit deur die lewe te gaan  is nie maklik nie, want die lewe is eintlik een groot grys  ruimte van toegewings, verskonings, ompaaie en afdraaie. Mense plooi “reg” om aanvaarbaar verkeerd te wees – en almal kom daarmee weg, selfs in die howe. Daar is altyd ‘n versagting wat die verkeerde na die regte kant swaai. En hier sit ek en ek stroef in monoloog met myself:  “Maar dit kán mos nie so werk nie; dit moet aangespreek word en dit moet reggemaak word.” 

Op voetsoolvlak werk dit glad nie. ‘n Ribbebeen kan nie vir die res van die liggaam voorskryf wat om te doen nie – nie in hierdie huis nie.  ‘n Profeet word ook nie in Jerusalem geëer nie, want Jerusalem het genoeg van sy eie profete. En Fariseërs. Waar die onreg egter probeer om in my kleinkinders se speelgoedkiste te klim  en hulle te beroof van die vooruitsig op ‘n gesonde volwasse lewe, is dit ‘n ander saak.  Die enigste manier om  my korrektiewe gewete te sus is gewoonlik dan om my vlerke te sprei en ‘n  epos  - of ses – af te lewer daar bo in die boomtoppe waar die meeste wind waai. Wat hulle daarmee doen, is buite my beheer, maar ten minste het ek probeer om ‘n regstelling te maak – soos my pa gesê het.  Ek wou baie graag verder gaan leer, maar by gebrek aan geld, het ek vir myself ‘n ander doelwit gestel toe ek in matriek was. My naastes het gedink ek is ‘n “rolling stone” teen die tempo dat ek van werk verander het en het gedink ek is heeltemal oor-entoesiasties toe ek aansoek doen vir ‘n pos by Universiteit Stellenbosch se Finansiële Afdeling. Op die ouderdom van amper mondig is ek aangestel as die eerste vroulike werknemer tussen ‘n klomp mans met grade in Ekonomie en Finansies en wat nog alles. Voordat ek my oë twee keer kon knip, was ek Begrotingsbeheer-beampte vir drie Fakulteite, onder andere die Mediese Fakulteit in Tygerberg Hospitaal. Ek moes sink of swem tussen vergaderings, mediese toerusting, kwotasies en spesifikasies in vreemde tale oor vae, buitelandse telefoonlyne  en kontrole hou van ‘n begroting wat weekliks nuwe eise en skommelinge ondergaan het. Maar ek is nie ‘n sinker grootgemaak nie en ek het ‘n doelwit gehad om in die oog te hou – wat ek  uiteindelik twaalf jaar later bereik het.

Toe ek ses maande gelede, na intense bemarking van my boekies ‘n epos van ‘n ander universiteit kry vir die aankoop daarvan, was dit nogal ‘n eer.  Die proses wat hulle gevolg het, het my egter so  teruggeneem na my dae by Begrotingsbeheer op Stellenbosch.  Hoe meer ek aangedring het by hierdie universiteit om my van ‘n offisiële bestelling te voorsien, sodat ek vir hulle ‘n faktuur kan uitmaak, hoe meer het hulle aangedring op my bankbesonderhede.  Hulle het niks daarvan verstaan dat ek ‘n naspoorbare  bestelnommer as ‘n verwysing op my faktuur en betaling wou aanbring nie. Nee, hulle stuur die rekwisisie na hulle Finansiële afdeling en wanneer die betaling gedoen is, sal hulle die bestelling plaas.  Dit sal ongeveer twee maande neem, so  skryf hulle vir my. Twee weke  later  bliep my telefoon die ontvangs van betaling. Vir vier maande lank al staan die opgemaakte pakkie onder in my kas. Sonder adres, want ek het dit nie. En dit pla my,  maar ek sit doelbewus en wag vir hulle reaksie. Ek wil sien hoe lank dit gaan neem voordat ‘n ouditeur uitvind  daar is geld uitbetaal waarvoor daar geen aankope ontvang is nie.  Is dit hoe Nkandla gebeur het?  

Carine Badenhorst

Nkandla styl

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant