Flertsevleis op slagdag

Flertsevleis op slagdag

Gansbaai Courant

Ek wonder dikwels :  is my kleinkinders regtig beter af om te sien hoe hulle ouers vleis in pakkies,  melk in plastiekbottels, brood in plastieksakkies  en eiers in boksies  in ‘n winkel  koop?  Hulle het geen visuele kennis van waar dit vandaan kom nie en daarom het hulle geen aanvoeling vir die bewaring van ons hulpbronne nie.  Kinders is so nuuskierig en kan met soveel verwondering staan ek kyk wanneer Oupa ‘n vis skoonmaak.  En al die vrae! In hulle klein wêreldjie is dit ‘n groot ontdekkingstog.  Een van die eerste uitstappies waarop ouers hul peutertjies neem, is sekerlik ‘n plek waar hulle plaasdiere van naby kan beskou. Om ‘n wollerige lammetjie in daardie klein armpies vas te hou, is ‘n grootoog-oomblik. ‘n Paar jaar later staan die kind saam met Mamma voor die vleisrak in die supermark en hoor van lamsvleis.  “Mamma, waar kom lamvleis vandaan?”  “Van lammertjies af, my kind.”  “Daai lammertjies wat ons by die diereplaas gesien het?”  “Ja, my kind.”  En daar vlieg die kind tussen die rakke deur kar toe met ‘n bloedstollende “Whaaaaa!” Die klandisie en personeel is op hulle agtervoete en weet nie herwaarts of derwaarts nie.  Hoe kry ‘n mens so ‘n sielsverwarde kind tot bedaring?  Wat sê jy?  Hoe verduidelik jy dat dit ‘n reël van die natuur is? Hoe herstel jy jou kind se vertroue in jou, want in daardie gemoedjie is jy die gemeenste mens op aarde. Eers oe en aa jy dat die kind die diertjie moet vashou en dan staan jy met stukke van sy lamlyfie in jou hand om te gaan gaarmaak by die huis!

Ons wittebrood is deur reën onderbreek. Dit was saaityd in die Strandveld. Op ‘n donker winteroggend toe hy van die melkstal af kom, kondig my bruidegom aan dat daar ‘n skaap in die slaghok hang vir my om te bewerk, want hy was op pad land toe. Ek was heel selfversekerd, want ek het mos al baie dopgehou wanneer hy slag. Met die vel, binnegoed en lieslappe het dit amper te maklik gevoel. Die blaaie se lossny was ‘n ander storie. Dit het ‘n hele paar snye gekos om reg in die lit uit te kom, so ook met die een boud. Die paar dikvleisflertse wat rondom die litte losgehang het kon maar by die lieslappastei kom.  My man het dit maklik laat lyk om die ribbes van die rugstring los te kap: net twee kappe van die byl aan elke kant. Ek het spoedig besef ‘n man met ‘n stewige arm en amper twintig jaar se ondervinding se voorbeeld gaan ek nie sommer op die eerste dag ewenaar nie. Omdat die een boud reeds afgekarring was, het die karkas ongelyk gehang en ek had nie die slag en krag om dit met een hand te kon stilhou  nie. Die kalf was egter in die put en die skaap aan die haak. Met ‘n halwe borsbeen stewig in een hand, haal ek bo my kop uit met die byl. Net drie ribbebene kom los en die karkas swaai met die impak van die hou uit my hand uit. Met die tweede kap vat ek ‘n stuk van die rugstring ook saam.  Met die navigasie om daar uit te kom, verlaat ek die pad aan die ander kant en kap diep in die dunribbes in. Die anderkantste rib kom nog slegter daarvan af, want nou kap ek teen my hand. Ek probeer dit van die buitekant van die karkas af, met nog minder sukses.  Teen ‘n spoed maak ek my vleis bymekaar en sorg dat dit in die vrieskas is toe Manlief kom brekfis eet.  Gebakte lewer en niertjies in ‘n suursous met ‘n lang, stil gebed dat hy nie die vrieskas moet oopmaak en inspeksie hou nie. Hy het nie, want dit was saaityd. ‘n Man wat kan en ken, weet egter oombliklik  aan dit wat op sy bord beland hoe ‘n skaap nié geslag moet word nie.  En dan sit ek heimlik en wens ek het die geleentheid om vir my kleinkinders te wys hoe dit gedoen word?  Liewer nie, laat hulle maar glo die vleis kom uit ‘n koelkamer.

Carine Badenhorst

Flertsevleis op slagdag

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant