Skelm teer sy pad terug selle toe
‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
‘n Massiewe beroerte-aanval wat tot ‘n ernstige motor-ongeluk tussen twee motors gelei het, het Saterdag, 18 Februarie 2017 die dood van ‘n bekende sakeman van De Kelders tot gevolg gehad en ‘n inwoner van Blompark ernstig beseer gelaat.
Die voorval het op die R43 net buite Gansbaai, in die rigting van Pearly Beach, plaasgevind.
Die welbekende eienaar van Coffee on the Rocks, Barry Johnson (73), was met sy Hyundai op pad om by ‘n vriend te gaan kuier.
Sowat 1.5 kilometer vanaf die 4-rigtingstop by die industriële gebied, het Barry se motor reg voor ‘n aankomende VW Polo ingeswaai en ‘n onvermydelike botsing het gevolg.
Die outopsie-verslag wat Maandag vrygestel is, het bevestig dat Barry ‘n massiewe beroerte-aanval agter die stuur van sy motor gehad het wat tot die swenk van die motor gelei het. Slegs sy ribbes is as gevolg van die botsing self gebreek en hy het velbeserings opgedoen.
Overstrand Medical Response, Metro Ambulansdienste, Gansbaai SAPD en Verkeersdienste was vinnig op die toneel.
Barry was vir langer as ‘n uur in sy motor vasgedruk voordat die “Kaak van die Lewe”-span vanaf Hermanus opgedaag het.
Hy is, nadat hy uit die wrak bevry is, per ambulans na Hermanus vervoer, waar hy later die middag in die hospitaal oorlede is.
Andrew Adams, die bestuurder van die ander motor - ‘n VW Polo, is ‘n inwoner van Blompark. Sy been is ernstig beseer, maar hy is reeds die volgende dag uit die hospitaal ontslaan.
Barry en sy eggenote, Gayle, is mede-eienaars van die bekende Coffee on the Rocks in De Kelders. Barry was bekend as ‘n ware heer en was welbekend vir die vriendelike, onderhoudende gesprekke wat hy selfs met vreemdes aangeknoop het.
Barry is op 6 November 1943 in Vryheid, KwaZulu-Natal gebore, waar hy ook grootgeword het.
Hy en Gayle is op 9 Oktober 1973 in die huwelik bevestig en 2 seuns en ‘n dogter is uit die huwelik gebore: Guy (42) wat in London, Engeland woon, Liam (37) van Kaapstad en Vera (31) wat in Sidney, Australië woonagtig is. Hy word ook nagelaat deur 7 kleinkinders.
Die egpaar woon reeds die afgelope sowat 18 jaar in De Kelders waar hulle die afgelope 16 jaar die gewilde Coffee on the Rocks restaurant bedryf.
Barry het ‘n groot voorliefde vir klassieke motors gehad en hy en ‘n groep vriende het ook hul eie klub, die Classic Car Lunch Group gestig wat gereeld gesellig bymekaar gekom het. Porsche Suid-Afrika se bestuur, asook bekende motorjoernaliste, het gereeld by Coffee on the Rocks by Barry aangedoen vir middagete.
Tobie Venter, Besturende Direkteur van Porsche Suid-Afrika, het by geleentheid gesê: “Daar is nie ‘n beter plek as Coffee on the Rocks om by te eet en te kuier nie. Hy het ook gesê dat hulle al soos ‘n familie geword het.
Gayle het aangedui dat sy van plan is om met die bedryf van Coffee on the Rocks aan te gaan.
‘n Gedenkdiens sal Maandag, 27 Februarie 2017 om 11:00 in die Anglikaanse Kerk, Stanford gehou word.
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.
‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...
Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...
39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.
Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...