Wanneer om vas te slaan

Wanneer om vas te slaan

Gansbaai Courant

Dis ‘n welbekende feit dat meeste vissoorte hulle eie manier het om te byt. Indien na ‘n voorbeeld gesoek word om dit te illustreer hoef daar nie verder gesoek te word as die witsteenbras nie. Enige hengelaar wat sy sout werd is weet dat om hierdie vis te vang, jy hom kans moet gee om die aas ordentlik te “sluk” voordat daar vasgeslaan word. So eenvoudig?  Nee tog nie. Vir eers is daar die manier waarop jou lyn voorberei word. Terwyl die kans altyd daar is dat die steenbras aan enige lyn kan byt is my geld op die ou wat ‘n glysinker gebruik. Die idee is juis dat die hoek nie gevoel word sommer met die eerste bytslag nie en hy sal loop met die lyn om dan later die aas behoorlik te sluk  --  en dis dan wanneer jy vasslaan.

Dink aan ‘n galjoen en die prentjie verander ietwat. Die hengelaar sal die lyn steeds nie styf laat hang nie en so bietjie speling toelaat. Almal wat al vir ‘n galjoen se byt gewag het sal weet dat jy ook in dié vis se geval moet wag vir die regte oomblik voor die vasslaanslag.

Alles hang darem nie net af van die regte tydsberekening nie, want hoe jou gereedskap voorberei is tel bitter baie. Die lengte en tipe stok wat jy gebruik, die lyn, die strop en selfs die sinker maak ‘n geweldige verskil. Somtyds tel selfs die kleur van jou lyn, veral wanneer vanaf ‘n boot gehengel word. Buiten dat die kombinasie ‘n verskil kan maak wanneer jy jou aas op ‘n “tiekie” wil plaas beinvloed dit ook hoe daar gehengel word. Praat van snoek en daar word amper vuis geslaan wanneer verskillende aspekte bespreek word. Enigeen is in staat om ‘n snoek te vang wanneer die vis regtig aan die byt gaan, dis dan wanneer jy met ‘n kaal hoek nie sukkel om jou vis te vang nie. Maar wanneer die snoek skelm byt is dit ‘n ander storie. Dis dan wanneer die man langs jou die een na die ander intrek terwyl jy nie kan verstaan waarom jy dan nie eers ‘n byt kry nie. Wanneer jy jou dollie beskou lyk dit asof die lood met ‘n “chipping hammer” bygekom is. Dis natuurlik soos die snoek die lood aanval sonder om vas te byt. Eers wanneer jy die kuns bemeester het om jou lood op ‘n sekere manier in te trek smaak jy die bevrediging van daardie wrede loop van die vis. Soos die gereelde snoekvanger weet vat die vis somtyds net aas terwyl ander tye ander tegnieke gebruik moet word. So, snoek vang is ‘n storie op sy eie.

Silwervis. In die diep water is die vis se byt nie so opmerklik nie en baie maal hang hy reeds wanneer jy die lyn so voel-voel om te kyk of daar lewe is. In teenstelling hiermee is die byt van vis baie meer voelbaar in vlakker water en gevolglik moet jy meer in jou pasoppens wees. Wat my aanbetref is die vang van vis (ons praat nou van “ons soort”) in die vlakker water ‘n groter kuns as in die diep water. Ek weet dat hieroor baie verskil sal word en dis reg so! So, gaan jy hengel en jy ken nie van nie, hoop maar die vis gaan wild aan die byt en jy hoef jou nie te beroep op die kuns van wanneer en hoe nie!
Lekker vang,
Seemeeu

Wanneer om vas te slaan

Seemeeu

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant