Speurder fnuik inbrekers

Speurder fnuik inbrekers

Gansbaai Courant

Die knap optrede van ‘n speurder verbonde aan die SA Polisiediens op Gansbaai, speurder-sersant Leon Crafford, het daartoe gelei dat twee selferkende jeugmisdadigers dié naweek vasgetrek is.

Die twee jeugdiges, van onderskeidelik 11 en 16 jaar oud,  word verbind met etlike inbrake op Baardskeerdersbos, asook verskeie ander misdade wat motordiefstal insluit. Soveel as 24 inbrake is in enkele maande aangemeld, vingerafdrukdeskundiges moes telkens uit Somerset-Wes ontbied word om vingerafdrukke te neem en 'n skrikbewind is deur die minderjariges gevoer. Verskeie polisiebeamptes het by herhaling gesê hulle weet wie die skuldiges is,  maar dat bewyse ontbreek. Speurder-sersant Crafford is Saterdag uitgestuur nadat twee nuwe inbrake aangemeld is. Artikels wat uit een huis vermis is,  is by die tweede toneel gevind. Hy het toe besluit om die verdagtes se huise te besoek en het Sondag eers 'n 11-jarige seun op B’bos ondervra,  die seun het skuld erken en 'n tweede verdagte genoem. Dié 16-jarige is in Blompark opgespoor. Die twee het erken dat hulle by die inbrake betrokke was en het artikels wat gesteel en weggesteek is, gaan uitwys. "Ek het besluit genoeg is genoeg, die inbrekers het inwoners geteister en was later uitdagend - asof hulle selfs vir die polisie wou sê niemand kan iets aan hulle doen nie. Albei jeugdiges woon onder die haglikste omstandighede en ek het 'n vergadering met maatskaplike werkers belê sodat op geskikte aksies besluit kan word. Die kinders sal uit die plaaslike gemeenskap verwyder word sodat opheffingswerk in hulle lewens gedoen kan word," sê speurder-sers. Crafford. Die voorsitter van die Baardskeerdersbos Huiseienaarsvereniging (BBHEV), me Helena Swart,  het haar vreugde uitgespreek oor die nuus dat uiteindelik teen die jeugdiges opgetree gaan word. "Inwoners moes telkens hoor die SAPD weet presies wie die skuldiges is,  maar kan nie optree nie weens 'n gebrek aan bewyse en omdat die verdagtes kinders is. Die BBHEV skakel gereeld met die kantoor van Maatskaplike Dienste op Caledon juis omdat allerweë vermoed is die inbrekers is minderjarige kinders. Uit gesprekke word die afleiding gemaak dat Maatskaplike Dienste en die SAPD nie in noue samewerking met mekaar is nie," sê me  Swart. Ander inwoners van Baardskeerdersbos sê daar is verskillende organisasies wat deur die Staat befonds word met die doel om opheffingswerk onder die plaaslike bevolking te doen, maar geen resultate word gesien nie. "Kinders wat in die skool moet wees, loop bedags in B’bos se strate rond, jong meisietjies raak swanger en talle se huislike omstandighede is hartverskeurend, tóg sien ons nie dat enigeen se omstandighede selfs oor die afgelope 5 jaar enigsins verbeter het nie," sê die inwoner. Daar word allerweë groot waardering uitgespreek teenoor speurder-sers. Crafford wat uiteindelik vir 'n deurbraak gesorg het. "Ek wil amper sê B’bos se mense kan nou maar weer met oop deure slaap,  hierdie twee jeugdiges gaan nie gou weer daar pla nie," sê sers. Crafford. En huis-eienaars wat lank geteister was, slaak 'n groot sug van verligting!

Carien Crafford

Speurder fnuik inbrekers

Carien Crafford

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant