'n Geestelike gespreksforum

'n Geestelike gespreksforum

NG Kerk Gansbaai

 

Vraag: Ek lees baie boeke (tydskrifte en koerante). Sommige is rigtinggewers en ander verwar 'n mens. Wat is die verhouding tussen die Bybel en ander geestelike lektuur?

Antwoord: In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”, en daar was lig. God het net ‘n woord gespreek en ‘n nuwe realiteit tot stand gebring.
Dié woord (Hebreeus: dabar) word in Genesis 1 uitgebeeld as ‘n koninklike dekreet; die heerser van die hemel en die aarde wat ‘n bevel uitvaardig en dit gebeur.
En God het ook gesê dat dit wat die woord tot stand gebring het, baie goed is.

In die Ou Testament word God se woord ook gevind in die wet en die wysheid. Die wet het God saam met die verbond gegee, dit bevat die droom wat God vir sy volk gehad het. Dit is die riglyne vir ‘n gemeenskap van vrede en harmonie, waar God en mens, mens en medemens en mens en die skepping mekaar respekteer. Dit is nie ‘n las nie, dit is ‘n vreugde, want dit omvat God se keuse vir die mens en sy skeppingsdoel.
Om die wet te onderhou, is wysheid, want dan streef jy na ‘n wêreld van orde en respek, waar reg en geregtigheid heers en daar nie onreg is nie. Die wysheid is ‘n baie belangrike Bybelse tradisie. Vrou Wys-heid (Hebreeus: hokma) word in Spreuke teenoor Vrou Dwaas-heid gestel. In Spreuke 8 lees ons dat wysheid reeds daar was voor die skepping, as ’t ware die vroedvrou wat gehelp het om God se skepping voort te bring. Wie wysheid vind, vind die lewe (Spreuke 8:35) en geniet God se guns. Wysheid is verskriklik aards en konkreet; dit het te make met die woorde wat ek gebruik, die manier waarop ek met mense praat, die besluite wat ek neem, die insig wat ek toon. Wysheid is nodig om weerstand te bied teen chaos, teen dwase besluite en selfsug. Ons is vandag net te bewus van die ekologiese gevaar van dwaasheid en kortsigtigheid.

Johannes 1:1 verkondig: “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God”. Die Griekse woord is logos. Die logos het vlees geword en onder ons kom woon. Logos verwys na die skeppingswoord, dit verwys na die gedagtes van God wat die wêreld georden het, dit wys na die wysheid in wie God vreugde gevind het. Jesus was die wysheid, Hy het dit geopenbaar en Hy het dit gepraat en leef. Die dwaasheid wat die wêreld in die kruis gesien het, was die wysheid van God.

Waar vind ons die verhale en die beskrywings en die liedere en die poësie en die briewe wat ons van hierdie wysheid vertel? In die Skrif... in God se lewende Woord. Die insig van die Reformasie was juis dít dat, as die Skrif dan ons hoofbron van kennis oor God is en ons moet leer hoe om wyse mense te wees en hoe ons God se Woord in die wêreld kan leef, moet die Skrif vir almal beskikbaar wees. Moet almal dit kan oopmaak en lees en dan met vrymoedigheid. Die Woord is God se geskenk aan hierdie wêreld.

Nou kan ons verder vra (nog ‘n vraag wat al lank deur die kerk bedink is): Maar kan God Hom buite die Bybel aan ons bekendstel, met ons praat, Hom aan ons openbaar? Ja, die Gees waai waar Hy wil. Ons word tog geïnspireer deur die natuur, deur ander mense se dade, deur ander boeke, deur drome. Maar dit moet ons juis weer laat verlang na die Woord wat die God wat Hom vlugtig aan ons geopenbaar het, in sy ryke grootheid, genade en liefde openbaar en bekendmaak. Die Skrif is ‘n boek vol stemme wat getuig oor dieselfde God. Die Kerk het dan ook onderskeid gemaak tussen algemene openbaring (natuur) en spesifieke openbaring (Woord).

Die inhoud van die Woord het te make met wie ons is, daarin ontdek ons ons identiteit. Die Bybel is dan ook nie bedoel as ‘n boek wat ons slegs in ons alleenheid moet lees nie, maar ook daar waar ons saam is, as familie, as wyk, as groepie gelowiges.

Mag ons weer onder die besef kom van die krag van die Woord. Die Woord en die Gees wat mense kan verander, sonder selfs die hulp van die dominee of ander gelowiges. Die Woord lei ons na God, die Bybel voed, die Bybel inspireer.

Daar is baie ander inspirerende boeke in die winkels beskikbaar. Mag hulle net nooit die Bybel verplaas as ons anker en rigsnoer nie, want die Bybel vertel ons die waarheid oor die God wat die bron van ons bestaan en die doel van ons lewe is.   
                
—– dr Lisel Joubert

'n Geestelike gespreksforum

dr Lisel Joubert

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai