Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing: Eksodus 20:12 en Efesiërs 6:1,2
Ek lees in dié dae die volgende: “God is ‘n God van orde.” Dit sien ‘n mens reeds wanneer jy die eerste bladsye van die Bybel oopslaan. Uit die chaos skep God orde. Uit die onbewoonbare wêreld, uit die donkerte op die diep waters, woes en leeg, skep Hy ‘n bewoonbare wêreld, vol lig en lewe, ‘n paradys. Volgens ‘n vaste orde. Met ‘n heerlike ritme, in ses dae, skep God alles wat is, leef en beweeg. Wie enigsens oplet, kan dit orals om hom of haar sien, hoor, aanvoel. Ook in die samelewing het God Sy ordes geplaas. Ook daar waar mense saamwoon, saamleef binne die net van menslike verhoudings het God Sy reëlmaat ingebou. Mense verskil byvoorbeeld van mekaar. Daar is ‘n verskeidenheid take wat God aan hulle toesê, bepaalde roepings en rolle vir man en vrou, pa en ma, broer en suster, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Elkeen het ‘n eie posisie in die samehang van die samelewing. Daarby sluit die vyfde gebod dan ook aan . . . dit is ‘n gebod vir orde teen chaos. En dit begin by die oerorde, die eerste en die belangrikste van alle ordes in die samelewing, naamlik die gesin. . . eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
Die vyfde gebod is die eerste gebod op die tweede tafel van die wet, wat die verhouding van mense onderling reël. Uitleggers sê dit is nie om dowe neute so nie. As dinge hier skeef loop, tas dit die hele samelewing aan. As die vyfde gebod oortree word, volg die oortreding van die ander gebooie, veral die op die tweede tafel van die wet byna vanself. . . moord, egbreuk, diefstal, vals getuienis, verkeerde begeertes. Daarom eer jou vader en jou moeder . . .
Die woord wat met eer vertaal word, sou ook vertaal kon word met: Die raad en leiding wat jou moeder en vader jou gee, moet jy belangrik ag. Jy moet hulle met ontsag bejeën, hulle ouerskap as gewigtig beskou. Die skrywers van die HK het dit dan ook goed verstaan as hulle antwoord op die vraag wat eis die vyfde gebod. Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde eerbied onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer. Dit is pragtig gestel. Alle eer bewys, liefde en trou. Dit is dan ook waarom die apostel Paulus in Ef 6 kon skrywe . . . Kinders wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.
Eer jou vader en moeder is ‘n baie belangrike gebod. Dit gaan in hierdie gebod om die erkenning van die Godgegewe taak van die ouers . Hulle is God se ouers vir my en ek is God se kind vir hulle. Daarom is ek gehoorsaamheid aan hulle verskuldig. Dit gaan om die taak wat die ouers ontvang het om die kinders groot te maak en hulle voor te berei vir die lewe. En dat kinders hulle ouers daarvoor sal respekteer.
En hulle(ouers) doen dit met hulle foute en tekortkominge en al. Dit is belangrik dat hierdie gebod nie sê: Eer jou volmaakte ouer nie. Sulke ouers kry ‘n mens nie. Die HK sê mooi: Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê. God stuur nie hemelwesens, engele of superagente om sy heerskappy op aarde te voltrek nie. Hy druk nie die gesag van sy ryk met dwang soos ‘n rubberstempel af nie. Nee, Hy gebruik mense soos ek en jy mense met gebreke en foute, sondige mense. Ek dink as die meeste van ons sou terugkyk op die kinders se grootmaak, dan erken ons dat ons ook baie foute gemaak het, maar dat ons tog ten spyte daarvan ons beste gedoen het in belang van ons kinders. Ek het eenkeer geluister na ‘n program oor kinders grootmaak waar dr M Janson gepraat het. Toe sê hy by hoë uitsondering na, doen ouers hulle bes om hulle kinders goed groot te maak.
Van die kinders word verwag om hulle ouers ten spyte van hulle foute ook te respekteer. So ernstig is dit dat die vyfde gebod gevolg word deur ‘n belofte: dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Die agtergrond hiervan is dan ook die verbondseën wat in die OT ‘n heel konkrete gestalte aangeneem het, in ooreenstemming met die konkrete denkwyse van Israel. God wat hulle uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het, sou hulle inlei in die beloofde land Kanaan. Wanneer Israel hulle skik na die orde reëlings van die Here, dan seën die Here hulle op ‘n konkrete wyse: Hulle sal lank bly woon in die beloofde land. Hulle sal voorspoedig wees.
Nou kan ‘n mens nie genoeg beklemtoon hoe nodig dit geword het om hierdie gebod te beklemtoon nie. Want die wêreld waarin ons leef is ‘n wêreld waar ‘n mens lees en hoor van baie gebrokenheid in gesinne. En lees en hoor ‘n mens van kinders wat glad nie hierdie soort respek betoon nie. Wat glad nie hulle ouers gehoorsaam nie. Die verhouding tussen sommige ouers en hulle kinders is een groot nagmerrie. Gesinsverbrokkeling is aan die orde van die dag. Kinders betoon nie respek vir hulle ouers nie. Hulle praat terug en is beledigend. En hierdie probleme maak dat kinders by die skool ook nie respek vir onderwysers het nie. Iets wat nou nogal blyk ‘n groot probleem te geword het. Die arme onderwysers moet bont staan om dit te hanteer. Ek sê altyd nog ek sal nie ‘n goeie onderwyser kon gewees het nie; ek sou te kwaad geword het vir kinders wat nie respek het nie. Dit sou vir my een te veel gewees het. Kinders wat terugpraat, wat beledigend is; ek kan dit glad nie hanteer nie. Dit is vir my merkwaardig dat toe die apostel Paulus skrywe aan Timoteus om hom raad te gee oor die bediening, skrywe hy oor die swaar tye wat sou kom en sê dan ondere andere die volgende: Hfst 3:1 Dit moet jy weet : in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees , geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense" en dan merkwaardig, ongehoorsaam aan hulle ouers . . . "ondankbaar en ongodsdienstig." Hy skryf toe al daaroor . . . iets wat Timoteus net moet weet, dit sal gebeur. . . ook hierdie ongehoorsaamheid aan die ouers.
Hierdie ongehoorsaamheid aan die ouers verwys dan ook na die gebrek aan agting. Gevolglik sal die basiese elemente wat die huisgesin as ‘n eenheid saamvoeg, verbreek word. Hulle sal geen erkentenis hê teenoor ouers nie en ook ongodsdienstig, dws sonder ontsag vir die dinge wat gewoonlik as heilig en onaantasbaar beskou word, soos bv die instelling van die gesinslewe. Dit klink my Paulus praat eintlik van vandag. Dit is nogal veelseggend dat die apostel Paulus in Efesiërs sowel as Kolossense wanneer die kinders aangemoedig word om hulle ouers te gehoorsaam, daar op die vaders en sekerlik ook op die moeders ‘n beroep gedoen word om nie hulle kinders so te behandel dat hulle opstandig word nie. Moenie by julle kinders gedurig fout soek nie. Moenie dus te hoë eise aan die kind stel nie. Moenie jou kind onredelik behandel nie. Ek dink ons leef nou meer in ‘n tyd, al lankal eintlik, dat jy nie net sê vir jou kind dat jy verwag van hom/haar om te luister want ek is jou pa . . . daarom sal jy luister. Nee om te gaan sit en te praat en te verduidelik met nog die nodige gesag . . . daarvoor word geduld gevra vir ouers. Daar moet ook nie van hulle kinders verwag om hulle onverwesenlike ideale te verwesenlik nie.
Daarom is dit so dat een van die vernaamste take van die kerk is om gesinne by te staan. Ek is so dankbaar oor die gesinsbediening van ons gemeente om ook gesinne te help om hierdie Bybelse waardes aan te moedig. Ek dink aan die rol wat die breër kerk in hierdie verband speel. Ek dink aan die projekte wat die ou Buvton, deesdae Communitas begin het juis om families te help. Die kerk moet bly praat oor die familie waardes. Dit probeer vasmaak by geleenthede soos kampe ens. Die rol van die familie moet al hoe meer beklemtoon word. Interessant dat Hollywood in 1980 net twee flieks oor families gemaak het. In 1992 net ses. In 1994 was daar 75 flieks oor die familie en in 1998 was daar 107. So daar word kennis geneem van die belangrikheid van families.
Om te vra hoekom families belangrik is, is om te vra waarom suurstof vir jou goed is.
Daarom word voorbidding vir gesinne gevra, ook vanaand . . . altyd . . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.