Goedkoop Genade en Duur Genade

Goedkoop Genade en Duur Genade

NG Kerk Gansbaai

Die bekende teoloog van ‘n hele aantal jare gelede, Dietrich Bonhoeffer, het die uitdrukking goedkoop genade vir die eerste keer gebruik toe hy aan ‘n rede gedink het vir die swak geestelike toestand van die kerk, asook die onvermoë van die kerk om deur sy getuienis ‘n konstruktiewe rol in die wêreld te speel. Hy was oortuig daarvan dat dit, meer as enigiets anders, aan goedkoop genade toegeskryf kon word. 

Maar wat het hy bedoel met die uitdrukking goedkoop genade? Dit is ‘n genade wat geen eise stel of vaste ondernemings vra nie. Dit is byvoorbeeld om die vergifnis van sondes te verkondig wat uit vrye genade deur die Here geskenk word, maar nie te verkondig dat mense hulle ook tot die Here sal bekeer en hulle aan die Here sal toewy nie. Dit is om genade te verkondig sonder heiligmaking. Dit is soos om die doop te bedien aan kinders en nie te praat oor die verantwoordelikheid wat op die ouers se skouers rus en die eise wat dit inhou nie. Dit is soos om lidmate van die kerk te wees sonder om te praat oor die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan en eintlik nie regtig enige eise aan lidmate  stel nie. Dit is om lidmate te wees sonder enige vaste onderneming om die Here te dien. Dit is om die genade te verkondig sonder om oor die eise van dissipelskap te praat. 
Om aan te sluit by die uitdrukking kan ‘n mens nie genoeg  beklemtoon dat die toedrag van sake eintlik daarom ‘n verwronging is van die verstaan van ‘n uiters kosbare saak, naamlik die Here se genade.

Dit is nouliks tog te bedink dat iemand wat die genade hoor en dit aanvaar, daarop nie sal reageer sonder die nodige toewyding wat daarmee saamgaan nie. Dit is tog eintlik onmoontlik om die genade te gehoor het, daaraan te glo en dan nie heiligmaking na te streef of verantwoordelik te lewe voor die Here en daarom ook jou verantwoordelikheid teenoor die kerk na te kom nie.

Dit is ook nouliks te bedink dat die kerk wat die genade verkondig, ook geen eise aan die lidmate sal stel  nie. Of om te bedink dat die kerk kinders sal doop, maar nie seker sal maak dat die ouers hulle belofte sal nakom nie. Want die genade is ‘n duur genade. In hierdie verband dink ek aan die argument van die apostel Paulus in Romeine 6:1. Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Dink maar net ook aan die woorde van Jesus oor dissipelskap in Lukas 14:26: As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie, tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Dink in hierdie verband ook aan die woorde in 1 Petrus 1:17, 18. Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 

Waar daar daarom nie sprake is van die nodige toewyding en erns van ‘n lewe voor die Here deur die kerk se lidmate nie, kan die kerk nie anders as om dit voor die Here te bely en te bid dat die Here die kerk genadig sal wees nie.

Dit is verblydend om te kan meld dat daar  al ‘n klompie jare gelede ‘n beweging was in die gevestigde kerke om weer ‘n keer grondig na te dink oor die erns en implikasies van die mens se geloofsverbintenis aan Christus. En vandag word, soos nog nooit tevore nie, nagedink oor die betekenis van kerkwees in die wêreld.

Ook wil ons as kerkraad daarna strewe en is ek dankbaar dat gemeentebediening hierin die leiding gee. Ons kan ook nie genoeg herinner word aan die Gereformeerde tradisie met die klem op heiliging en die gebruik van die tug as bedieningsmaatreël ter bewaring van onder meer die heiligheid van die gemeente nie. Daaroor sal in die toekoms nog baie meer gebid en gedink moet word, ook deur ons gemeente. 

Mag die Here ons bewaar dat ons nie die genade goedkoop sal maak nie, maar altyd die kosbaarheid daarvan sal respekteer deur toegewyd met ons hele lewe voor die Here te leef .

Goedkoop Genade en Duur Genade

Ds Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Simeon en Anna en Baba Jesus

Simeon en Anna en Baba Jesus

Maria en Josef het hulle babatjie Jesus genoem, net soos die engel ‘n paar maande tevore vir Josef gesê het.  

NG Kerk Gansbaai
NGK Gansbaai Webblad

NGK Gansbaai Webblad

Gedurende Oktober 2013 is ‘n “Proud Community Member” sertifikaat aan die NG Kerk Gansbaai oorhandig deur Candice Lombard, die Gansbaai Explore Gemeenskaps Bestuurder

NG Kerk Gansbaai
Gesins en Jeugbediening 2013

Gesins en Jeugbediening 2013

In 'n oogwink is nog 'n jaar verby - nog 'n jaar waarop ons met dankbaarheid kan terugkyk en ons Hemelse Vader eer vir al sy liefde en genade aan ons as mense bewys.  

NG Kerk Gansbaai
Vir die Jongspan :  die Kersverhaal

Vir die Jongspan : die Kersverhaal

Lank, lank gelede, voor daar  nog motors en vliegtuie was, het Josef en Maria na Betlehem gereis. Hulle het net ‘n donkie gehad waarop Maria kon ry as sy te moeg geraak het. Dan het Josef die donkie gelei.  

NG Kerk Gansbaai
NGK Gansbaai Kerssangdiens 2013

NGK Gansbaai Kerssangdiens 2013

In afwagting om 'n ware Christusfees te vier, kon ons op Sondag 24 November 2013 deel wees van  die Kerssangdiens, wat die regte gees van Kersfees in ons harte laat ontwaak het.  

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos hou Skaapkopete

Baardskeerdersbos hou Skaapkopete

Die NG gemeentelede van Baardskeerdersbos reël jaarliks ‘n Skaapkop-ete waartydens hulle saam met vriende en besoekers gesellig verkeer. 

NG Kerk Gansbaai