Gansbaai Wynproegilde: Die ‘Spook’ van Spookfontein Wynlandgoed
Die ‘spook’ loop gelukkig nie by Spookfontein Wynlandgoed in die Hemel-en-Aarde Vallei nie. Die wynkelder se hoofwynmaker, Nelis Uys, verduidelik: “Gelukkig is daar nie ‘n regte ‘spook’ op die wynlandgoed nie,” het hy gesê. “Die naam ‘Spook’ is afgelei van die legende dat ‘n mens ‘n ‘gees’ binne die bekoorlike en geheimsinnige, mistige warreling van die vloeiende plaaslente vroeg soggens kan sien.”
Nelis was die aanbieder met die gilde se byeenkoms op Dinsdag, 26 Julie 2022. Hy is bygestaan deur die wynkelder se Bemarker, Stefan Theunisen. Voordat Johan Pfister Stefan aan die woord gestel het, het Anne-Maré de Witt ‘n verjaarsdagkoek (met kersies!) aan Nelleke Ferreira oorhandig wat dieselfde aand verjaar het - met die gaste wat spontaan vir haar gesing het - én sy moes die kersies doodblaas!
Nelis het Spookfontein se uitstaande wyne, waarvan sommiges onlangs eers gebottel is, te proe aangebied, met die nodige verduidelikings. Die proe-wyne was: Sauvignon Blanc (2022), Merlot Rose (2021), Pinot Noir (2018), Cabernet Franc (2019) en Phantom (2020). Die vyf wyne is, sonder uitsondering, met hoë punte aangeslaan - duidelik was almal beïndruk met die wyne.
Chris Pead se onverbeterlike spyskaart, soos gewoonlik, het bestaan uit: Voorgereg - paneer, cheddar & spring onion cigars; Hoofgereg - leek & red pepper filled chicken Leg quarter met bykomstighede; Nagereg - tipsy tart & custard. Bruce Shambamuto en sy span het vir puik bediening gesorg.
Nelis en Stefan het die gaste met ‘n lootjie-trekking verras en Ansie Serbon was die gelukkige wenner van ‘n spesiale ‘botteltjie Spookfontein’!