Besoeker, al die pad van Nederland af, verwesenlik hartsbegeerte
Op Donderdag, 21 Oktober, dieselfde dag waarop Elim se nuwe kliniekgebou amptelik geopen is, het Anneke Baauw - van Vledder van Zeist Nederland saam met haar gasvrou, oud Napierdorper Marianne Strydom van Kaapstad, besoek gebring aan die Morawiese sendingdorpie Elim. Die Elim Tehuis wat ook deur Anneke se eie gemeente, die Morawiese Broederkerk Gemeente in Zeist se Zending Genootschap ondersteun word, was tesame met Elim se historiese kerkgebou, heel bo-aan haar wenslysie van besoekpunte. Sy het op haar eerste Sondag in SuidAfrika besoek gebring aan die Bellville se Morawiese gemeente waar sy 'n kerkdiens bygewoon het. Donderdag, 21 Oktober het Elim egter aan die beurt gekom en is haar hartewens verwesenlik.
Anneke het haar gasvrou leer ken toe Marianne tientalle jare gelede by geleentheid van 'n studietermyn in Nederland gewoon het. Marianne het 10 jaar gelede weer besoek gebring aan Anneke en haar gesin toe sy aan 'n vertaling gewerk het. Waar haar eie beplande besoek aan Nederland in Mei 2020 te danke aan die COVID-19 pandemie deur die mat geval het, was Anneke se besoek ook vir Marianne 'n besondere geleentheid om weer soos van ouds te kon kuier. By Elim Tehuis het Anneke vir Me Cunningham en Mnr Van Dyk ontmoet saam met wie sy deur die tehuis kon stap en sommer ook van die kinders en personeellede kon ontmoet. Sy het ook met waardering vertel van haar besoek aan die kerkgebou self wat soos die gebruik in Morawiese Broedergemeentes is, spierwit geverf is met 'n tafeltjie voor in die kerk wat as “kansel” diens doen. Die historiese Morawiese dagwoord wat uit 1824 dateer wat teen die muur aangebring is en steeds herinner aan die stigtingsdae van die sendingstasie, het ook beïndruk en sal as foto saam met al die ander fotos van haar Elim besoek as herinnering saamgaan na Nederland.
