
Napierdorper se prestasies dien as inspirasie vir jong leerders
Dit is altyd goeie nuus wanneer berig kan word oor uitsonderlike prestasies van inwoners wat langs hierdie weg beloon word vir harde werk en deursettingsvermoë.
Prof dr Michael John Klink wat sy kinderjare op Napier deurgebring het en in 1988 aan die Senior Sekondêre Skool Albert Myburgh gematrikuleer het, is onlangs as hoogleraar aan die Noord-Wes Universiteit bevestig.
Doktorale verhandeling stem tot nadenke
Prof. Klink het in 2007 die graad PhD in Chemie aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal met 'n doktorale verhandeling waarvan die titel soos volg omskryf word: “Development of polyaniline nanotube electrocatalysts and sesor devices fro phenolicpollutants.”
In 'n tyd waarin water “as 'n bron van lewe” gesien word en die soeklig in die besonder val op die ontwikkeling van oplossings vir probleme wat veroorsaak word deur waterbesoedeling - deur die toedoen van mense sowel as industrieë - word navorsing op hierdie besondere terrein hoog aangeslaan.
Prof Klink woon tans in die noorde in Vanderbylpark digby Johannesburg. Sy prestasies dien egter steeds as inspirasie vir jong Napierdorpers wat wonder of dit vandag nog moontlik is om drome te verwesenlik en te presteer.