
Felheid van vuur belemmer bestryding: Indringers, klimaattoestande rede vir Napier se megavuur
Die felheid van die vuur wat die afgelope week by Napier gewoed het, is grotendeels toegeskryf aan die groot hoeveelheid den en ander uitheemse plantegroei op die berg.
Volgens ’n plaaslike bron behoort die uitroei van uitheemse plante indringend aandag te kry om te verhoed dat brande wat uitbreek so intens en vernietigend raak soos wat verlede week in Napier gebeur het.
Sowat 4 600 hektaar berggrond en aangeplante fynbos het afgebrand in die vuur wat vir vyf dae fel gewoed het. Die vuur is uiteindelik Sondag, 13 Februarie, geblus. Die dorp self het geen skade gely nie en gelukkig het die brand nie oor die Elim/Baardskeerdersbos-pad gespring nie.
Rook, wind stuit lugspan
Working for Fire se twee helikopters was deurlopend op die toneel. Weens swak sig as gevolg van wind en digte rook, kon die lugspan egter aanvanklik nie ontplooi word om die vuur te help blus nie.
Verskeie brandspanne het by tye dwarsdeur die nag gespook om te verhoed dat die brand versprei na blom- en bessieplase wat aan die Napier/Baardskeerdersbos/Elimgrondpad grens.
Brand ook op Struisbaai
’n Bedryfsentrum is op ’n oop stuk grond langs die Napier polisiestasie ingerig om die brandvegters by te staan. goFPA en Napier se buurtwag het deurentyd die pos beman en noodvoorrade aan lede van die onderskeie brandspanne voorsien.
Die gemeenskap en eienaars van besighede in die streek het ruim bygedra om noodvoorrade aan te vul en die brandspanne bygestaan met vrugte, toebroodjies, water en ander bydraes. Terwyl die rook nog dik oor Napier gehang het, is Working for Fire se helikopterspan op Saterdag, 12 Februarie, ook na Struisbaai uitgeroep.
’n Veldbrand wat digby die Sea Cottage Estate in Struisbaai-Noord uitgebreek het, het gedreig om handuit te ruk. Die helikopters kon met water wat uit die see opgeskep is, die brand betyds blus en het verhoed dat brandskade aan eiendom by ’n stoorpark in die omgewing aangerig word.
Working for Water plat af
Suidernuus verneem dat van die grondeienaars in die Napieromgewing heimlik die skade wat die vuur aangerig het aan indringers op die berg, verwelkom het.
Die koste om indringerplante uit te roei is geweldig hoog. Agulhas Nasionale Park se Alliston Appel het bevestig dat die Working for Water-projek steeds aktief is, hoewel op veel kleiner skaal as voorheen. Working for Water is deur die nasionale regering in 1995 van stapel gestuur om indringerspesies uit te roei.
Die afplatting van die projek se bedrywighede beteken dat private grondeienaars genoop is om ander planne te maak en langs ander weë befondsing moet bekom om indringers op hul grond uit te roei.
Aardverwarming speel egter ook ’n groeiende rol in die frekwensie en felheid van vure.
Klimaatsverandering verhoog die risiko van vuur en Suid-Afrika spook, soos lande wêreldwyd, toenemend met sogenaamde ‘megavure’.
Louise Wessels, die bestuurder van goFPA wat vure in die groter Overberg bestry, het vroeër bevestig dat meer as 2 miljoen hektaar grond laasjaar in SuidAfrika afgebrand het.